NewsNews

AfriForum doen beroep op Afrikaanse belastingbetalers om SAID-peiling te steun

AfriForum verwelkom ʼn peiling wat tans op die webwerf van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gehou word waar die publiek gevra word in watter taal of tale die SAID se webwerf beskikbaar moet wees.

AfriForum verwelkom ʼn peiling wat tans op die webwerf van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gehou word waar die publiek gevra word in watter taal of tale die SAID se webwerf beskikbaar moet wees.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, doen haar instelling ʼn beroep op alle lede, maar ook die publiek om hulle stem oor die taal van dienslewering te laat hoor deur aan die peiling deel te neem.

“Sover ons weet, is dit die eerste keer wat die SAID op dié wyse vra wat belastingbetalers se taalvoorkeur is.  AfriForum ontvang deurlopend klagtes van lede oor die SAID se gebrek aan Afrikaanse dienslewering. Die taalbeleid van die SAID wat vroeër vanjaar vir openbare kommentaar gepubliseer is, het ook weinig voorsiening gemaak vir enige tale buiten Engels – ʼn voorstel wat skerp deur AfriForum in ons kommentaar gekritiseer is,” het Bailey verklaar.

Die vertaling van inhoud op ʼn webwerf is een van die makliker maniere om meer tale te akkommodeer en ʼn wyse waarop die breër publiek met kennis in eie taal bemagtig kan word.  AfriForum steun dus ʼn stem vir meerdere tale wat Afrikaans insluit, en hoop dat die SAID die peiling se resultate in die toekoms in ag sal neem.

“Veeltalige diens het vele positiewe gevolge vir die sprekers van byvoorbeeld Afrikaans, soos dat werk vir vertalers geskep word, Afrikaanse besigheidseienaars dokumente in eie taal kan inlewer en Afrikaanse individue, rekenmeesters en belastingadviseurs bemagtig word.  Dit geld ook alle ander tale wat so gebruik word.  Wanneer ʼn belastingbetaler se taal geakkommodeer word, gee dit ook ʼn groter gevoel van deursigtigheid en moedig dit meer positiewe deelname aan as wanneer slegs een taal gebruik word.  AfriForum bedank die SAID vir hierdie inisiatief en sien uit na meer soortgelyke peilings oor die taalaanbod van ander afdelings van die inkomstediens.”

Die peiling verskyn op die tuisblad van die SAID: www.sars.gov.za.

Related Articles

Back to top button