NewsNews

Suid-Afrika se geskiedenis en simbole moet almal insluit

ʼn Uitsluitende benadering ten opsigte van ʼn land se geskiedenis, sy standbeelde en simbole is verdelend en verkeerd, en kan nasiebou nie bevorder nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

ʼn Uitsluitende benadering ten opsigte van ʼn land se geskiedenis, sy standbeelde en simbole is verdelend en verkeerd, en kan nasiebou nie bevorder nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder het vanmiddag in ʼn parlementêre debat oor die tersaaklikheid van simbole en die aanslag daarop gesê daar kan hoofsaaklik net twee benaderings oor die geskiedenis gevolg word. Een is insluitend of inklusief, en die ander uitsluitend.

Hy het gesê Suid-Afrika het om baie redes ʼn verdeelde geskiedenis. Die hedendaagse Suid-Afrika het eers  in 1910 tot stand gekom, skaars ʼn honderd jaar gelede. Dit het grootliks daartoe gelei dat daar verskillende helde, en verskillende vertolkings van die geskiedenis is.

Volgens dr. Mulder is dit die verkeerde benadering om te sê dat net die een wat op ʼn gegewe tydstip in beheer is, mag besluit oor die geskiedenis en wie ʼn land se helde is, en dat alle ander beelde en simbole verwyder moet word.

“Die probleem daarmee is dat geen regering permanent is nie. Kom ons aanvaar die PAC is die volgende regering. Dan moet Hani en Zuma se standbeelde verwyder word en vervang word met Sobukwe en Makwetu. Dan kom die EFF aan bewind en moet standbeelde van Malema en Ndlozi opgerig word en die ander weer verwyder word.

“Gaan kyk gerus by die Britse parlement hoe standbeelde van Cromwell, wat die monargie vernietig het, en Charles I, wie se kop hy laat afkap het, langs mekaar staan.

“Ons eie kasteel het ʼn geskiedenis wat hom verleen tot verskillende vertolkings van onderdrukking en kolonialisme. Onder die vorige bedeling het die vlae van al die verskillende tydperke gewapper. Van die Union Jack tot die Hollandse vlag. Dit is die insluitende benadering. Die ANC het alles verwyder en daar is nou net en vlag. Dit is die uitsluitende benadering.

“My ouma Maria Mulder was 16 jaar oud in ʼn konsentrasiekamp waar haar ma dood is. Haar boetie Gerrie is dood op drie jaar omdat mense wie se pa of ouers nog geveg het, net ʼn helfte van die gewone kosrantsoen gekry het.

“Klein Gerrie is dood en sy moes hom as ʼn sestienjarige daar begrawe. By Merebank naby Durban is ʼn monument opgerig en Gerrie se naam is ook daar. Moet ons dit nou vernietig? My ouma het dié oorlog gesien as ʼn geveg teen Britse imperialisme.

“Die Vryheidsmanifes sê Suid-Afrika behoort aan almal wat in hom woon, swart en wit. Daarom glo die Vryheidsfront Plus ʼn insluitende benadering is ʼn verstandige benadering in ons diverse land. Mense kan nie vir my sê ek is deel van Suid-Afrika en my belastinggeld is goed, maar nie my helde en verlede nie. Dan gaan ons nêrens heen nie wat nasiebou aanbetref nie,” sê dr. Mulder.

Related Articles

Back to top button