NewsNews

Man sterf na band ontplof

‘n Fratsongeluk verlede week op die R54 naby Fochville het die lewe van ‘n geliefde en hardwerkende man geëis.

‘n Fratsongeluk verlede week op die R54 naby Fochville het die lewe van ‘n geliefde en hardwerkende man geëis.

Mnr. Freddie Whitlock (35) van Meyerton was op 22 Mei besig om ‘n trok se band op te pomp, toe die band ontplof het en die wieldop hom teen die kop getref het.

Mnr. Whitlock is die betrokke dag deur sy maatskappy gestuur om hulp te verleen aan die trokbestuurder nadat die trok se band pap was.

Sy vrou Juanita is deur sy kollega wat saam met hom was, in kennis gestel dat daar ’n ongeluk was.

“Ek en my ma is na die toneel. Ek het so hulpeloos gevoel. Ek het net die massa bloed waarin Freddie gelê het gesien, maar ek kon niks vir hom doen nie,” vertel Juanita.

Sy was ook die eerste persoon op die toneel. “Paramedici was binne 10 minute op die toneel, maar ek het heeltyd gewens dat hulle vinniger daar kan uitkom,” vertel Juanita.

Volgens ER24 wat op die toneel was, het paramedici bevind dat mnr. Whitlock erge beserings aan sy kop en bene opgedoen het. Hy is op die toneel deur ER24 behandel. Hy is daarna na Mediclinic Potchefstroom geneem vir verdere behandeling.

Hy is egter na ’n uur in die hospitaal dood verklaar. “Ek was heeltemal histeries toe hulle vir my sê Freddie is dood. Die suster aan diens moes vir my kalmeerpille bring,” vertel Juanita.

Volgens adj.-off. Mpho Manyoba, ‘n polisiewoordvoerder, het mnr. Whitlock so ’n diep sny aan sy kop gehad dat sy skedel sigbaar was.
Sy het voorts gesê ’n geregtelike doodsondersoek word nou gedoen.
“Freddie sal onthou word as die mees hardwerkende staatmaker wat ek nog ooit ontmoet het.

“Hy sou altyd uit sy pad gaan om iets vir iemand anders te doen,” sê Juanita. Afgesien van sy vrou, word mnr. Whitlock ook oorleef deur sy sy ma, twee broers en sy skoonfamilie.

Related Articles

Back to top button