NewsNews

Duiker verdrink in mangat

VEREENIGING. – ’n Groot tragedie het Donderdag by ‘n konstruksieterrein op die hoek van Uniestraat en Stanleylaan afgespeel toe ’n 27-jarige professionele duiker in ’n mangat verdrink het. Volgens kaptein Fikile Funda, woordvoerder van die Vereeniging-polisie, het die voorval omstreeks 13:45 plaasgevind. Die duiker, Johan Visagie, is sowat sewe meter ondergronds gestuur om werk te …

VEREENIGING. – ’n Groot tragedie het Donderdag by ‘n konstruksieterrein op die hoek van Uniestraat en Stanleylaan afgespeel toe ’n 27-jarige professionele duiker in ’n mangat verdrink het.
Volgens kaptein Fikile Funda, woordvoerder van die Vereeniging-polisie, het die voorval omstreeks 13:45 plaasgevind. Die duiker, Johan Visagie, is sowat sewe meter ondergronds gestuur om werk te verrig by die mangate en pyplyne wat daar vervang word, nadat die pad in 2014 weens geen instandhouding ingegee het.
Mnr. Stanley Gaba, woordvoerder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê die projek om die pad te herstel het reeds in Augustus 2014 begin en was nou byna voltooi toe die voorval plaasgevind het. Die mangate moet egter ook vervang word en dus is daar ’n pyplyn wat die mangate met mekaar verbind wat riool by stasie 10 uitpomp.
Dit is juis by die pyplyn wat die eerste en tweede mangat met mekaar verbind waar die tragiese voorval plaasgevind het.
Daar word glo ’n soort lugsak oor die punt van die pyplyn van die mangat gesit en dan word die lugsak weer verwyder sodat die riool van die een pyp na die ander kan vloei. Die duiker het die nodige toerusting en veiligheidsklere gehad, maar dit was tevergeefs.
In sy poging om die lugsak te verwyder het iets lelik skeefgeloop en noodlottige gevolge ingehou.
Kollegas en reddingswerkers het probeer om hom te red, maar hy is op die toneel dood verklaar. “Dit is jammer dat so iets moes gebeur. Ons innige simpatie en meegevoel met die familie van die oorledene. Ons hoop hulle kan vrede vind in die blote feit dat hy oorlede is terwyl hy vir Suid-Afrika diens gedoen het,” sê mnr. Gaba.

Kollegas en mediese personeel spook om die duiker uit die mangat te red. Hy is op die toneel dood verklaar.
Kollegas en mediese personeel spook om die duiker uit die mangat te red. Hy is op die toneel dood verklaar.

Related Articles

Back to top button