NewsNews

Engels word dalk gelyke onderrigtaal hier

VEREENIGING. – Die nuus dat die regering die omstandighede by meer as 130 Afrikaanse skole in Gauteng ondersoek met die oog daarop om dit na parallelmedium te verander en Engels op gelyke vlak as onderwystaal in te voer, het minstens vier Vaaldriehoekse skole en ouergemeenskappe in rep en roer. Dit volg nadat ‘n geheime dokument …

VEREENIGING. – Die nuus dat die regering die omstandighede by meer as 130 Afrikaanse skole in Gauteng ondersoek met die oog daarop om dit na parallelmedium te verander en Engels op gelyke vlak as onderwystaal in te voer, het minstens vier Vaaldriehoekse skole en ouergemeenskappe in rep en roer.
Dit volg nadat ‘n geheime dokument waarin die Onderwysdepartement se intensies uiteengesit is, verlede week aan die media uitgelek is. Vaaldriehoekse skole wat glo geteiken is om na parallelmedium te moet verander, is die Laerskool Risiville, Laerskool Unitas-park, Laerskool DF Malherbe sowel as die Hoërskool Vanderbijlpark.
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, ontken die geldigheid van die dokument en sê in hierdie stadium is daar bloot ondersoeke aan die gang om te bepaal by watter skole die infrastruktuur voldoende is om dit na parallelmedium skole, waar Engels op ‘n gelyke vlak saam met Afrikaans die onderrigtaal sal wees, te verander.Vaalweekblad het die plaaslike hoofde wie se skole in die spervuur is, hierdie week om kommentaar genader, maar hulle was óf nie beskikbaar nie, óf het aangedui dat hulle nog geen amptelike inligting oor die aangeleentheid van die Onderwysdepartement af ontvang het nie en dit nie met die media mag bespreek nie. Uit Vaalweekblad se ondersoeke blyk dit egter dat die skole ter sprake, die afgelope jare steeds uitstekende groei as enkelmediumskole toon, of in gevalle waar die etniese profiel mettertyd verander het, soos Laerskool Unitaspark, daar reeds voortydig planne gemaak is om alle kinders in die voedingsgebied te akkommodeer. Unitaspark het Engels reeds drie jaar gelede as onderrigtaal saam met Afrikaans ingefaseer en tans is daar reeds Engelse klasse tot by graad 3. Vanjaar het ‘n voorskoolse klas met Engels as voertaal ook die lig gesien. Die skool beoog om teen 2019 ‘n Engelse been vir al die grade tot by graad 7 te hê. Dit word egter ontwikkel as ‘n dubbelmediumskool en nie as parallelmedium nie.Ouers van dié skool het aan Vaalweekblad gesê as die proses reg gevolg word, behoort daar geen probleme te wees nie, wat inmenging van die staat onnodig sal maak.Vaalweekblad het die Onderwysdepartement gevra om meer lig op die saak te werp om onsekerheid in plaaslike skolekringe uit die weg te ruim. Kommentaar was teen druktyd nog nie beskikbaar nie en sal hopelik volgende week gepubliseer kan word.

Related Articles

Back to top button