LifestyleNewsNewsReligion

Kerk vier orrel-verjaardag met luisterryke uitvoerings

Die NG Gemeente Vredefort se drie-manuaal, Fehrle en Roeleveldt orrel, vier op 7 Junie sy 40ste verjaardag. Hierdie orrel is wyd en syd bekend, en is al bespeel deur menige orrelvirtuoos. Die verjaardagviering vind op 6 en 7 Junie plaas.

Die NG Gemeente Vredefort se drie-manuaal, Fehrle en Roeleveldt orrel, vier op 7 Junie sy 40ste verjaardag. Hierdie orrel is wyd en syd bekend, en is al bespeel deur menige orrelvirtuoos. Die verjaardagviering vind op 6 en 7 Junie plaas.

Prof. Albert Troskie wat 42 jaar gelede toe die orrel gebou is as orreladviseur opgetree het, sal ter viering van die geleentheid hier in die pragtige kerkgebou in Vredefort gróót klanke kom maak. Hy is ’n boorling van die Oos-Kaap en het in Somerset-Oos aan Gill-Kollege matrikuleer. Prof. Troskie was ’n dosent aan UNISA en vanaf 1983 tot sy aftrede in 1999 professor in musiek en hoof van die musiek-departement van die UPE.

Hy is reeds 48 jaar aktief as kerkorrelis en koorleier en was die stigter van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging(SAKOV) in 1980. Vir twintig jaar was hy die voorsitter van SAKOV en ook redakteur van die Nuusbrief en jaarblad, “Vir die Musiekleier”. In 2002 ontvang hy erelidmaatskap van SAKOV.

Sy boek, “Pyporrels in Suid-Afrika”, is in 1992 deur J.L. van Schaik gepubliseer en in 2010 het sy tweede boek, “The Pipe Organ Heritage of South Africa”, verskyn. Hierin word die besondere orrel van die NG gemeente Aberdeen ook beskryf. As orreladviseur het hy nuwe pyporrels vir talle gemeentes ontwerp (onder meer vir Vredefort) en oor die bou daarvan toesig gehou. Twee van sy groot ontwerpe is die pragtige orrel in die NG Gemeente Somerstrand (1988) waar hy ook kerkorrelis en koorleier is, en die reuse-orrel van die Veremarksentrum in Port Elizabeth (1999). In 2000 het hy ‘n CD, “Grand Organ”, uitgegee waarop hy bogenoemde twee orrels bespeel. Hy het ook ander orrel- en koor CD’s uitgegee.

Prof. Albert Troskie het in die kommissies vir die samestelling van die “Liedboek van die Kerk” gedien, en hy was ook lid van die eindredaksie wat die boek persklaar moes maak. Hy is landwyd aktief as orrelis en spreker en het twee bundels, “Liedboekverwerkings vir Orrel en Koor”, Vol. 1 en 2 in 2003 en 2006 gepubliseer.

Die twee geleenthede vind as volg plaas:

– Saterdagmiddag, 6 Junie, 15.00
Prof. Albert Troskie lewer ’n orrelkonsert met ligte orrelwerke aangevul deur trompet, dwarsfluit en solo-sopraanwerk met onder meer die volgende werke wat uitgevoer gaan word:
* Pelgrimskoor uit Tannhaüser – Richard Wagner
* Aambeeldkoor uit Il Trovatore – Giuseppi Verdi
* Kanon in D- Johann Pachelbel
* Marche Solenelle (Seremoniële Mars) – Alphonse Mailly
* Groot mars uit Aïda (+ Trompet) – Giu-seppi Verdi
Toegang is gratis, maar daar sal wel ’n kollekte opgeneem word om die kunstenaars se onkoste te dek.
– Sondagoggend, 7 Junie, 09.30
’n Feesgeleentheid ter viering van die orrel se verjaardag met prof. Albert Troskie as orrelis en die Deo Gloria koor onder leiding van Erna Rademan en Marli Kruger (die koor sing bekende werke soos die Slawekoor uit Nabucco).
Hierdie luisterryke geleentheid sal ook met trompet en dwarsfluit bekroon word. Na afloop van die diens sal sop en broodjies vir almal teenwoordig bedien word.

Related Articles

Back to top button