NewsNews

Pad-herrie – ‘Kry ‘n nuwe kontrakteur’

“Ons kan nie voortgaan as die kontrakteur nie ooglopend vorder en inwoners daagliks verontrief word nie.”

“Ons kan nie voortgaan as die kontrakteur nie ooglopend vorder en inwoners daagliks verontrief word nie.”

So sê Bertus le Roux, wyksraadslid vir die gebied waarin die deel van Albert Luthuli-laan wat tans toe is, val. Die opeenhoping van verkeer, veral tydens spitstye in alternatiewe roetes soos Walter Sisulu, Spruit- en Retiefstraat, het reeds botsings veroorsaak. Die verkeer op die bult het ook aansienlik meer geword, aangesien motors daar moet deurry na die Mooivallei-hoewes en Kanonierspark.

Die kontrakteur het in ’n brief waarvan die Herald ’n afskrif het, gesê dat die rede vir die treurige vordering van die projek weens kontantvloei probleme is. Ander projekte waarby hul betrokke is het die Albert Luthuli-projek negatief beïnvloed. In die brief het hulle ook onderneem om teen 11 Mei ’n omkeerstrategie te begin implementeer om die projek af te handel. ’n Spesiale kontrakvergadering is op 5 Mei gehou waar die kontrakteur sy voorneme bekend gemaak het om vir uitstel van die afhandelingsdatum te vra. Raadslid Le Roux het die stadsraad versoek om nie sy aansoek goed te keur nie, maar liewer die kontrak teen 19 Mei op te skort en ’n bevoegde kontrakteur aan te stel wat die projek vinnig kan afhandel.

“Ek het ook versoek dat hulle geen ongeskeduleerde verdere betalings maak nie,” het Le Roux gesê. “Die kwessie van die stadige vordering met Albert Luthuli-laan is net so ‘n groot bekommernis vir die munisipaliteit. “Hierdie pad is een van die besigste en mees belangrikste roetes in ons stad se padnetwerk,” het William Maphosa, stadsraadwoordvoerder gesê.

Volgens hom is stappe reeds geneem om seker te maak die kontrakteur kom sy kontraktuele verpligtinge na. “Die stadsraad het die kontrakteur 14 dae, wat op 11 Mei begin het, gegee om aansienlike vordering te toon, anders gaan meer aggressiewe stappe geneem word om te verseker dat die projek betyds voltooi word. Maphosa sê die kontrakteur het homself skriftelik verbind om al sy kontraktuele verpligtinge na te kom. Onder andere dat die projek betyds klaar sal wees, asook goeie gehalte werk en vakmanskap.

Volgens die stadsraad is die datum wat die padoppervlak afgehandel moet wees, 5 Junie.

Related Articles

Back to top button