NewsNews

Voertuigdiefstal en gewapende roof hou polisie voor langnaweek besig

Net voor die aanvang van die langnaweek is ’n 66-jarige vrou van Parys verlede Donderdag hier helder oordag net na 14:00 in haar huis in Tweedelaan deur twee mans oorval. Die mans het die veiligheidsdeur en voordeur oopgebreek om toegang tot die huis te kry. Hulle het haar hande en voete met ’n elektriese koord …

Net voor die aanvang van die langnaweek is ’n 66-jarige vrou van Parys verlede Donderdag hier helder oordag net na 14:00 in haar huis in Tweedelaan deur twee mans oorval.

Die mans het die veiligheidsdeur en voordeur oopgebreek om toegang tot die huis te kry. Hulle het haar hande en voete met ’n elektriese koord vasgebind en wou geld, wapens en juweliersware van haar hê. Hulle het met onder meer haar Honda Brio motor, tablet, televisie, kruideniersware, juweliersware en kontant gevlug, het die polisie gesê.

Die vrou kon daarin slaag om nadat die verdagtes gevlug het, na ’n venster te beweeg waar sy die buurman se tuinier se aandag getrek het. Die buurman het haar dadelik te hulp gesnel en alarm gemaak, is aan Gazette gesê. Teen druktyd was die verdagtes steeds soek. Die vrou is naas skaafwonde nie ernstig beseer nie. Die motor is kort ná die voorval verlate in Schilbachstraat, nie ver van haar woning nie, gekry. Die voorval volg nadat ’n dubbelkajuit Toyota Hilux bakkie verlede Woensdag op die parkeerterrein voor die Dome Fitness Centre gesteel is. Die bakkie is nog soek.

Ook Pep Stores in Kortstraat is verlede Dinsdag beroof toe die winkel pas sy deure die oggend oopgemaak het. Vier gewapende mans het doodluiters by die winkel ingestap en die personeel in die stoorkamer ingedwing waar hulle vasgebind is. Die winkelbestuurder is beveel om die kluis oop te maak en ’n aansienlike bedrag kontant en selfone is buitgemaak voordat die mans wat met handwapens gewapen was, in ’n wagtende voertuig gevlug het.

’n Polisie jaagtog het gevolg. Die wit GTI Volkswagen Golf 5 is op die N1 in ’n verkeersspoedlokval afgetrek waarop die verdagtes die verkeersbeampte oortuig het dat hul polisielede is en verdagtes agterin die motor het en daarom haastig is. Die insittendes agterin die motor het saamgespeel en hul hande agter hul rug gehou. Die verkeersbeampte het die mans laat gaan. In Evaton is die verdagte motor deur die polisie daar agterna gesit waarop van die verdagtes uitgespring en te voet verder gevlug het. Van die selfone en ’n vuurwapen is teruggekry..

Related Articles

Back to top button