NewsNews

Te perd kilometers ver om ‘volk’ weer te herenig

Op sy perd, Dapper, se rug, is die 38-jarige Werner Kruger op pad na Lichtenburg. ’n Tog honderde kilometer ver met net sy perd, sy vriend, Leon Bester wat te voet saamstap, en die vierkleur. En dit vir ’n saak wat hy sê sy Hemelse Vader hom op die hart gelê het – om die …

Werner Kruger op Dapper se rug met die Vierkleur-vlae waarmee hy en ’n vriend, Leon Bester, van Prieska na Lichtenburg beweeg vir die Twee Riviere Kommandorit wat Kruger op die hart gelê is.
Werner Kruger op Dapper se rug met die Vierkleur-vlae waarmee hy en ’n vriend, Leon Bester, van Prieska na Lichtenburg beweeg vir die Twee Riviere Kommandorit wat Kruger op die hart gelê is.

Op sy perd, Dapper, se rug, is die 38-jarige Werner Kruger op pad na Lichtenburg. ’n Tog honderde kilometer ver met net sy perd, sy vriend, Leon Bester wat te voet saamstap, en die vierkleur. En dit vir ’n saak wat hy sê sy Hemelse Vader hom op die hart gelê het – om die “volk uit partypolitiek en geloofsgroeperinge te kry. Ons dien dieselfde Skepper, maar dis kleinighede wat ons verdeel,” sê hy.

Werner en Dapper, sy ma Frieda wat die ondersteuningsvoertuig ry, en Leon, het op 22 Februarie uit Prieska vertrek. En so is daar langs die snelweë en paaie gehou tot by Bloedrivier waar hulle die Traktaat tussen Dingaan en Piet Retief vir die grond in Natal wat hiermee aan die Boere oorgedra is, te herdenk.

Vandaar is hulle na Majuba en toe tot by Sandrivier vir die herbevestiging van die Sandrivier-konvensie waar die Britte die Boere se heerskappy in Transvaal erken het. Hierna is hulle tot by Bloemfontein om ook die Bloemfonteinse konvensie met dieselfde erkenning vir die Vrystaatse regering te bevestig.

En hoewel Werner sê hy baie ondersteuning van mense langs die pad gekry het, wat dieselfde geloof en standpunte as hy huldig, die grootste teleurstelling en ontsteltenis was toe hy verlede Woensdag by die Voortrekkermonument in Pretoria gekom het, en hy toegang tot die terrein geweier is. Vandag glo hy in sy hart dat die Boerevolk steeds nie vry is nie, maar ’n volk met ’n hartseer geskiedenis is.

En daarom het die voorval hom nie gestuit op sy tog nie. Ná die oorhandiging van ’n persoonlike petisie by Melrose Huis, het hulle Donderdag in Parys aangedoen onderweg na Lichtenburg, waar Werner hoop om ’n verootmoedigings “volksamekoms” te reël. Eers dan sal sy Twee Riviere Kommandorit voltooi wees. ’n Rit wat hy sê nie aangepak is vir enige politieke motivering of samekomste nie, maar bloot as geloofsopdrag en vir dit waarin hy glo.

Werner vertel dat hy die rit twee jaar gelede al wou onderneem, maar dat dinge toe nie vir hou uitgewerk het nie. Waar hulle kom bied mense vir hulle slaapplek aan en sal hy aanhou ry vir dit waarin hy glo.

* Gazette is by navraag oor die voorval deur Geraldine Paulsen, mediaskakelbeampte by die Voortrekkermonument, meegedeel dat die monument op private terrein staan en nie in regeringsbesit is nie. Paulsen sê streng reëls word gevolg vir toegang tot die terrein en dat reëlings vir spesiale besoeke soos hierdie vooraf getref moet word, wat nie in die geval gedoen is nie.

Paulsen sê voorts dat die monument op verklaarde natuurbewaringsterrein staan en dat daar ’n aantal perde op die terrein is wat deur Natuurbewaring daar toegelaat is. Die perde het egter tans perdesiekte en kan daar daarom nie perde op die terrein toegelaat word nie. Sy het beklemtoon dat enigeen nie lukraak toegelaat kan word nie, hoewel die bestuur simpatie het met Kruger se oortuigings en motivering vir sy besoek.

Sy het ook gesê dat daar geen probleem met die Vierkleur-vlag as sulks is nie, en dat dié vlag en ook ou vlae soos die Vrystaatse vlag en vorige landsvlag selfs in die geskenkwinkel op die terrein verkoop word.

Sy het mense gevra om wanneer spesiale besoeke soos hierdie aan die monument beoog word, mense asseblief vooraf die nodige reëlings met die bestuur sal tref. Mense kan gerus (012) 326 6770 skakel om reëlings te tref.

Related Articles

Back to top button