Local news

Gebore in ‘n huis vol musiek

Erna lewe vir musiek.

Erna Rademan, bekende musiekonderwysers, is al lief vir musiek vir so lank as wat sy kan onthou.

Gebore in Uitenhage in die Ooskaap, is sy die vyfde kind van agt. Haar pa het altyd gesorg dat hulle huis vol musiekinstrumente is en haar ma het altyd gesing terwyl sy huistake verrig het.

“Ek onthou dat ek met tiekies omgekoop is om vir gaste klavier te speel, lank voor ek skool toe is. My ouer susters het klavier gespeel – ek moes dit by hulle opgetel het. In die laerskool Innes het ek by juffrou Dina Visser met formele klavierlesse in standard 2 (graad 4) begin. In daardie stadium moes ek reeds die samesang tydens Landsdiensbyeenkomste begelei op die klavier. Later was Juffrou Burger my musiekjuffrou, ‘n wonderlike vrou wat my en my jonger sussie naweke na hulle huis toe genooi het, en vir ons lekker duette geleer het.”

In hoërskool Brandwag, was Widor du Toit haar onderwyser en sy beskryf elke enkele les as ‘n massiewe ervaring by dié kunstenaar. Na skool is sy Stellenbosch toe om ‘n B.Mus (Ed) graad te verwerf onder Lionel Bowman vir klavier. Haar ander instrumente was tjello, sang en blokfluit.

“Musiek is my lewe. My man sê ek het altyd ‘n lied in my hart, omdat ek altyd ‘n liedjie het wat by enige situasie pas. Dit is die waarheid, ek het ‘n lied in my hart. Musiek maak die lewe leefbaar en draaglik. Ek kan myself nie daarsonder indink nie. Dit is soos asem vir my.”

Erna is getroud met Pieter Rademan, eienaar van Küpel Water, en die paartjie het twee seuns.

“Ek was van 1993 af vir twaalf jaar die musiekonderwyder by Chris Van Niekerk skool en het elke jaar 25 musiekleerlinge gehad. Daardie jare was dit klavier en blokfluit. Ek het ook twee kore gehad, een vir die jonger span en ‘n gemengde koor vir die groter kinders.”

Daarna het Erna by die departement van onderwys as vakadviseerder begin en was senior vakadviseerder vir skeppende kunste in die Noordvrystaat vir 10 jaar.

In 2015 het sy skoolhoof geword by hoërskool Chris Van Niekerk skool, maar die skool se demografie het total verander en sy het geweet sy moet iets by die skool met musiek doen.

“Ek het gehoor van ‘n musiekprogram in Bloemfontein vir minderbevoorregte kinders en ek het onmidellik gesorg dat daardie program Vredefort toe kom. In daardie stadium was daar 150 leerders in die skool en 70 van hulle het ‘n strykinstrument gespeel.”

Erna vertel soos wat die leerder getalle van die skool opgetel het, het hulle ‘n orkes begin en sy het in die middae saam met die kinders geoefen.

“Dit was ‘n wonderlike tyd in my lewe. Dit beteken vir my soveel dat ek kinders se lewens deur musiek kon verander.”

Ongelukkig het die program stadig doodgeloop toe Erna in 2018 aftree.

“Ek het agter gekom as ‘n skoolhoof nie ‘n brandende hart vir musiek het en dit as ‘n persoonlike projek opneem nie, dan loop dit dood. Dit is baie hartseer dat die program uit Vredefort en uit Parys verdwyn het.”

Erna en haar man het in 1986 van Stellenbosch na Vredefort toe verhuis om te boer.

“Jan Badehorst, wat ‘n groot invloed gehad het op musiek in Parys, het my gevra toe ons net Vredefort toe verhuis het of ek die dorpskoor sal begelei.”

By ‘n ete het die idee van ‘n Kersfeeskonsert in die kerk met die orrel opgekom. So het die Deo Gloria koor begin. Na Jan se dood het hulle steeds met die konsert aangegaan.

“Ons het die koor die Deo Gloria koor genoem omdat ons lief is vir die Here. Daar is absoluut geen finansiele gewin vir ons daarin nie. Ons het onsself half dood gewerk net vir die kans om daardie konsert aan te bied. Van die begin af was die kerk se sitplek uitverkoop. Meer as ‘n 1000 mense het elke konsert bygewoon.”

Erna speel orrel, klavier, enigiets wat ‘n klawer het, tjello, viool, kitaar, blokfluit en sy kan sing.

“Toe ek afgetree het, het ek gedink en is nou klaar, maar toe het Anina De Villiers, ‘n jong meisie van Parys, my gebel en gesê sy kom van Johannesburg af en wil musiek gee, maar weet nie waar om te begin nie. Ek het toe besluit om saam met haar die musiekskool te begin. Ons het stadig begin en eers min leerders gehad. Ons het net aangehou. Ons is nou so vol dat ek weer vir drie voldae per week les gee.”

Erna sê die Here moet haar eendag agter ‘n musiekinstrument kom haal.

“Ek wil net musiek maak. Ek wil net kinders aansteek en mense se lewens verander met musiek.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button