Local news

Landbou nie net ‘n beroep nie, maar ‘n roeping

Die program het ook ‘n sterk fokus op tegnologie gehad.

TLU SA se jaarlikse Kongres het vanjaar op 4 September 2024 by die WNNR in Pretoria plaasgevind. Hierdie spoggerige geleentheid het die weereens klem geplaas op die veerkragtigheid en innovasie van die Suid-Afrikaanse landbousektor te midde van toenemende uitdagings, van ekonomiese onsekerheid tot die bedreiging van privaat eiendomsreg en die afname in landelike veiligheid.

Een van die kernmomente van die kongres was die presidentsrede deur Henry Geldenhuys, waarin hy die tema “Landbou móét seëvier” ten volle omarm het. Hy het die kritieke rol van boere in die bou van ‘n volhoubare toekoms beklemtoon, ongeag die uitdagings wat hulle in die gesig staar.

Gedurende die Kongres het die gehoor insig gekry oor uiteenlopende kwessies, soos die rol van privaat eiendomsreg, wat deur ‘n dinamiese paneel bespreek is. Hierdie reg, soos dit duidelik gemaak is, is die grondslag van welvaartskepping en stabiliteit, en moet beskerm word te midde van toenemende bedreigings.

John Steenhuisen, die minister van landbou, het in ‘n videoboodskap dankie gesê vir wat TLU vir die landbousektor beteken en die gehoor daaraan herinner dat volhoubare landbou ‘n gedeelde verantwoordelikheid is, en dat die samewerking tussen die regering en landbou-organisasies van kardinale belang is om die sektor te versterk.

Die program het ook ‘n sterk fokus op tegnologie gehad, met Nico Groenewald wat die benutting van moderne landboutegnologie vir winsgewindheid bespreek het. Die aanwesiges het verder deelgeneem aan besprekings oor hoe landbouers hul winsgewendheid kan maksimeer terwyl hulle steeds volhoubaarheid vooropstel.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê: “Landbou moet seëvier, want dit is nie net ‘n beroep nie, maar ‘n roeping. Ons moet ons uitdagings aanpak, en saamstaan om oplossings te vind. Of dit nou oor privaat eiendomsreg, veiligheid, of volhoubare boerdery gaan, ons is hier om seker te maak dat die landboubedryf sterker en meer vasberade as ooit te vore vorentoe beweeg. Ons toekoms lê in die hande van ons boere, en dit is ons plig om hulle in elke manier moontlik te ondersteun.”

Henry Geldenhuys is as president van TLU SA herverkies en die adjunkpresident is Wannie Scribante.

Clemens Senekal, voorsitter van die TLU SA Jongboerkomitee, het ook sy visie vir jong boere in die landboubedryf gedeel.

Die Kongres het met ‘n viering van uitnemendheid deur die toekenning van pryse aan boere en organisasies wat ‘n noemenswaardige bydrae tot die sektor gelewer het, afgesluit.

 

Related Articles

Back to top button