HealthHome & GardenLifestyleLocal LifestyleLocal news

Bome – ons erfenis, ons nalatenskap!

Bome gee lewe.

“Die mens en die boom loop van die begin van die skepping af saam.” – Flip du Plessis

“‘n Samelewing word wonderlik wanneer ou mans bome plant in wie se skadu hulle nooit sal sit nie.” – ’n Griekse spreekwoord.

Wanneer mens hierdie spreekwoorde lees, voel mens die verantwoordelikheid om jou erfenis en nalatenskap te beskerm.

Bome verryk al mense se lewens vir baie langer as wat enige van ons lewe en daarsonder sal ons nie net swaarkry nie, maar so ook sal die aarde swaarkry.

As bome oornag sou verdwyn, sal baie van die planeet se biodiversiteit saam met dit verdwyn. Habitatverlies is reeds wêreldwyd die primêre drywer van uitwissing. Plante, diere, wild en swamme wat van bome afhanklik is, sal uitgewis word. Die planeet se klimaat sal ook op kort en lang termyn drasties verander.

Bome voorkom ook oorstromings deur water op te vang eerder as om dit in mere en riviere te laat instroom en hulle hou grond in plek wat andersins in reën sou wegspoel. Sonder bome sou voorheen beboste gebiede droër en meer vatbaar vir uiterste droogtes word. Wanneer reën wel kom, sou oorstromings rampspoedig wees. Massiewe erosie sal oseane, koraalriwwe en ander habitatte beïnvloed.

Bome voorsien ook koelte en skadu, wat die temperatuur van die grond verkoel.

Inwoners van die Vrystaatse dorp, Parys, het vroër die maand met groot ontsteltenis gereageer toe ‘n ou bloekomboom op die hoek van Father Balink- en Kerkstraat geskend en bykans vernietig is.

Die gebou-eienaar by dié kruising waar die boom staan, het by navraag van Gazette gesê dat die boom gesnoei is omdat die takke te laag gehang het en daarom ‘n gevaar was. Nog ‘n boom agter in die perseel reg langs Doves & Saffas is ook weens dieselfde rede gesnoei.

Die boomherrie het egter weer die aandag gevestig op die waarde van bome in ‘n omgewing wat dikwels misken word.

Verskeie soorte bloekombome is oor die jare uit Australië na Suid-Afrika gebring, vertel Flip du Plessis ‘n plaaslike boomkenner wat die afgelope 30 jaar betrokke is by die identifisering van bome.

Uit die bome wat van Australië na Suid-Afrika gebring is, is met verloop van tyd minstens 30 verskillende seleksies gemaak wat gesien kan word in Sappi se boomargief in die plantasies by Kaapsehoop in Mpumalanga.

“Die mens en ‘n boom loop van die begin van die skepping af saam. Die grootste waarde van ‘n boom is die suurstof wat hulle voorsien. Daarom kan met reg gesê word dat ‘n boom die mens, sy tuin, sy plaas, sy veld, sy dorp, sy land en sy wêreld se grootste bate is. Ons kan Parys nie indink sonder sy bome nie,” sê du Plessis.

“Kyk maar op ‘n warm somersdag hoe kry die parkeerplek met ‘n boom se koelte voorkeur. Dink aan die dorp se voëls hoe afhanklik hulle is van bome se vrugte en plek om hul neste te bou,” verduidelik du Plessis.

Potchefstroom in die Noordwes is die stad met die langste akkerlaan in die Suidelike Halfrond, maar agter hierdie lang ry bome wat tot en met 7km strek, is daar ‘n pragtige, inspirerende storie van ware nalatenskap en leierskap.

Die eerste eikebome is in September 1863 in Potchefstroom op die eiendom van president MW Pretorius geplant. Die bome wat nou die historiese Eikelaan omsluit, is in 1910 geplant na ‘n besluit van die Dorpsraad onder leiding van BR Gericke.

Baie glo egter die ware storie is dat die bome geplant is langs die roete wat Gericke elke dag op sy fiets gery het om by die Landboukollege te gaan werk. Gericke wou gehad het almal wat hierdie pad stap, moes in die skadu stap en die uitsig geniet.

Volgens bronne is hy oorlede voordat die bome skadu kon maak.

Hans-Jurie Moolman, ‘n leier van die gemeenskap, sê dit is vir hom baie inspirerend en simboliseer die kern van eienskap van ware leiers.

“Leiers is persone wat deur hulle positiewe nalatenskap in hierdie wêreld uitoorleef word.”

Hierdie bome is ‘n erfenis en so belangrik dat ‘n petisie van stapel gestuur is om die bome te beskerm toe daar jare gelede van die bome verwyder wou word.

Dit het daartoe gelei dat die laan as ‘n Nasionale gedenkwaardigheid verklaar is.

Volgens Artikel 27(18) van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, Wet 25 van 1999 mag geen persoon enige erfenisterrein vernietig, ontsier, uitgrawe, verwyder van sy oorspronklike posisie, onderverdeel, of die beplanningstatus van enige erfenisterrein verander nie, sonder ‘n permit deur die erfenishulpbronowerheid verantwoordelik vir die beskerming van die sodanige terrein.

Die boom in Parys wat medendeels afgesaag is.
Eikelaan in Potchefstroom tydens skemer in die winter.

Related Articles

Back to top button