Local news

Spinasie maak plek vir Canabis-droom

Om die ding reg te doen, is vir hom belangrik sê Jacob

Ek werk hard vir wat ek het, gesels die 31-jarige Malesela Jacob Masoge trots. Die oudleerder van Parys Primêre skool wat op sy dag ‘n kranige rugbyspeler was, is die eienaar van die Canabis-plantasie in een van die tonnels by die roosplaas in Allenbystraat, wat deesdae verbygangers se koppe laat draai, want waar eens spinasieplante in dié tonnel gestaan het, groei Canabis nou.

En ja, hy het ‘n wettige permit vir wat hy doen, gesels hy vriendelik as hy wys na die permit. Maklik was dit nie om dit te kry nie, sê hy, en verduidelik van die streng vereistes wat deur die Department of Agricultural Land Reform and Rural Development, en die South African Health Products Regulatory Authority gestel word. Hyself het ‘n SEETA-geakkrediteerde sertifikaat aan die Cheeba Canabis Academy in Sandton verwerf, maar dit was ‘n lang pad om tot hier te kom.

Eintlik het hy al lank terug vir ‘n permit aansoek gedoen maar weens onkunde het van sy aansoek toe niks gekom nie, omdat hy by die verkeerde plekke sy aansoek ingedien het. Dit was eers toe sy pa, ‘n afgetrede polisie kolonel en voormalige stasiekommissaris van die Sasolburge polisiestasie met hom in 2022 gesels het oor die moontlikhede van ‘n Canabis-plantasie dat Jacob weer aansoek gedoen het. In Augustus 2022 het hy uiteindelik sy permit gekry en sy eerste Canabis-plantasie in Sasolburg begin op ‘n stuk grond wat goedgunstiglik met winsdeling vir hom beskikbaar gestel is deur ‘n man wat bereid was om hom ‘n kans te gee.Kort voor lank het Jacob se entrepreneursdroom so gegroei dat hy moes uitbrei.

‘n Tweede plantasie by sy huis in Grensstraat het gevolg, en toe die plantasie in die tonnel wat hy huur by die begunstigdes van die roosprojek. Na die voorbereiding van die grond gedoen is, en hy al die vereistes van sy permit nagekom het, is die eerste van die 290 Canabis plante in die tonnel in Maart 2023 geplant. Hy het ook al sy eerste oes gekry.

Jy oes elke vier maande, vertel Jacob, en jou kunsmis wat jy toedien verskil. Sewe dae ‘n week is hy en die vier mans wat vir hom werk vroegdag by die tonnels, want daar moet natgemaak en kunsmis gegee word, vertel hy. Dis juis nou weer naby oestyd. Hy het ‘n uitvoerkontrak vir CBD olie met Portugal, en is besig om te onderhandel vir ‘n uitvoerkontrak met Nederland, sê hy. Sy Sasolburg plantasie lewer hoofsaaklik vir prof. Bennie de Beer se Full Spectrum CBD, vertel hy. Sy plantasie by Sasolburg is baie groter beduie hy, en bestuur ‘n kontrakteur nou die plantasie vir hom.

Eintlik het hy ‘n graad in IT en het as webwerf ontwikkelaar in Portugal gewerk van 2015-2017, vertel hy. Toe kom hy terug Suid-Afrika toe waar hy senior webontwerper by Econofoods in Bloemfontein was. Oor die jare het hy ‘n belangstelling in Canabis ontwikkel en baie opgelees daaroor. Daar is soveel voordele aan die gebruik van CBD-olie, vertel hy, en sê dat die Canabis in sy plantasies nie gerook word nie.

Naas die CBD olie wat vervaardig word, word die vesel van die plante gebruik as materiaal, en as verpakkingsmateriaal.

Om die ding reg te doen, is vir hom belangrik sê Jacob. Beide sy ouers was immers lank in die polisiediens ook hier in Parys en Tumahole. Sy pa was in 2004 tweede in bevel by die Parys SAPD, en toe stasiekommisaris in Tumahole, voordat hy Sasolburg toe is. Sy ma, Sophie, het as kaptein uit die polisiediens getree en was onder meer ook by Parys SAPD en die Tumahole Speurtak. Ek het ‘n droom vir Parys sê Jacob. “‘n Droom om met die plante wat die Here vir ons gegee het te werk.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button