Local news

Jonger deelnemers vir parkrun aangemoedig

Komaan - neem deel. Dis gratis en 'n pragtige roete

Die gemiddelde ouderdom van deelnemers aan die Egweni River Lodge parkrun is mense bo 50. Dit beteken dat jonger deelnemers tans ver in die minderheid is.

Daarom word veral jonger deelnemers aangemoedig om te kom deelneem. Stof af daardie tekkies en kom geniet die plaaslike parkrun elke Saterdagoggend om 08:00 by Egweni River Lodge in Van Collerstraat. Onthou daar is geen ouderdomsperk vir deelname nie, en om deel te neem is gratis. Boonop is dit ‘n weeklikse belegging in ‘n gesonde leefstyl.

Jy hoef nie fiks te wees vir die 5 km roete wat jy kan stap of draf nie. Parkrun is nie ‘n wedloop nie, daarom – of jy eerste of laaste is, daar is plek vir jou. Selfs jou honde is welkom mits hul aan ‘n leiband is.

Die roete al langs die rivieroewer is besonder mooi, veral diĂ© tyd van die jaar. Dit is ‘n veilige en maklike manier om gereeld oefening in te kry en terselfdertyd nuwe vriende te ontmoet. Boonop kan jy rekord hou van jou vordering deur op die parkrun webtuiste te registreer om jou skanderingskode te kry. Met die skanderingskode word jou tyd elke week gemonitor en elektronies gemeet soos jy die eindpunt haal. Na voltooing van almal se deelname word dit elektronies aan jou gepos.
Jy kan registreer by www.parkrun.co.za en dan jou skanderingskode (bar code) self druk wat jy weekliks saamneem wanneer jy deelneem. Dit bly die goedkoopste manier van oefening met geen registrasiefooie nie. Geen wedloopfooie nie, en geen lisensiegelde nie. Gratis deelname lewenslank.

Met of sonder skoene – jy is welkom. Sleep sommer jou broers, susters, vriende, vriendinne en ouers saam en maak dit ‘n gesellige situasie. Wie weet, miskien ontmoet jy nog jou lewensmaat hier!

Vir navrae oor parkrun en hoe om aan te sluit of selfs net as ‘n vrywilliger beampte diens te doen, kontak gerus vir Belinda Ströh by 083 460 8225 of rig ‘n skrywe aan haar by egweniriverlodge@parkrun.com.

Related Articles

Back to top button