Local news

Jubelende orrelklanke in Vredefort gehoor

In 'n tyd waar die getal orrelstudente in Suid Afrika drasties afneem, is dit van die allergrootste belang dat alles moontlik gedoen moet word om hierdie wonderlike instrument en die vaardigheid van orrelspel, onder die publiek se aandag te bring.

Vanjaar se streekbyeenkoms van die Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsertorrelistevereniging (SAKOV), wat 25 en 26 Augustus by die NG Gemeente in Vredefort aangebied gaan word, sal bestaan uit ‘n allegaartjie van besonder boeiende aktiwiteite.
Die geleentheid is oop vir die publiek, want enige iemand met ‘n liefde vir kerkmusiek en sang, sal die program geweldig geniet.

Dié jaarlikse byeenkoms word Vrydag, 25 Augustus om 18:00 ingelui met ‘n jubelende orrelkonsert, getiteld Orrel, Sang, Sop & Sjerrie.

By hierdie konsert sal die orreliste Franz Geldenhuys, Isabel Kruger, Theunis Marais en Erna Rademan gehoor kan word met ‘n spyskaart van heerlike orrelklanke.

Die veelsydige Franz gaan ook twee gewilde solo’s sing.

Lizette Combrink, ‘n sopraan van Parys sal ook gehoor word met twee pragtige Afrikaanse liedere.

Gerhard Benade, eienaar van die Koepel Kunstesentrum op sy plaas Deelfontein, sal pragtige fagotwerke saam met Erna Rademan speel.

Soos die konsert se titel aandui, sal die gehoor eers om ‘n beker sop saamkuier.

Volgens Rademan, die Vrystaatse SAKOV-verteenwoordiger, hou elke streekverteenwoordiger een keer per jaar ‘n streekbyeenkoms.

Na sewe jaar as Vrystaatse streekverteenwoordiger, is hierdie die laaste byeenkoms wat sy aanbied in haar eie gemeente en by haar eie mense. Rademan skyn altyd die kollig op orreliste uit die platteland. “Ons gaan heerlik saamsing, en na wonderlike aanbiedings luister,” vertel sy.

Rademan sê by so ‘n byeenkoms kry orreliste, sangleiers en liefhebbers van kerkmusiek die kans om nuwe vriendskappe te smee en oues te versterk. “Dis ‘n baie eensame werk om ‘n orrelis te wees en dis verskriklik lekker om ‘n slag te kan gesels met mense wat soos jy dink en voel.”

Erna Rademan. die Vrystaatse SAKOV-verteenwoordiger, hou elke streekverteenwoordiger een keer per jaar ‘n streekbyeenkoms. Na sewe jaar as Vrystaatse streekverteenwoordiger, is hierdie die laaste byeenkoms wat sy aanbied in haar eie gemeente en by haar eie mense.

Rademan deel graag haar gemeente se manjifieke Fehrle en Roeleveld drie-manuaal orrel met haar kollegas. Dié orrel met sy elektriese aksie is vanjaar 48 jaar oud en is onlangs totaal vernuwe.

Die orrel het 2026 pype en 29 registers, verdeel oor 3 manuale en pedale.

In ‘n tyd waar die getal orrelstudente in Suid Afrika drasties afneem, is dit van die allergrootste belang dat alles moontlik gedoen moet word om hierdie wonderlike instrument en die vaardigheid van orrelspel, onder die publiek se aandag te bring.
SAKOV maak jaarliks honderde duisende rand beskikbaar vir hierdie doel in die vorm van studie- en
aansporingsbeurse vir lede. Rademan haal W.A. Mozart aan wanneer sy beaam: “Vir my oë en ore, sal die orrel altyd die koning van die instrumente wees,” en sy voeg by: “geen ander instrument kan gemeentesang beter lei en begelei nie”.

Die byeenkoms sal Saterdag, 26 Augustus van 09:00 tot 14:30 plaasvind. Mense wat die dag saam met SAKOV wil geniet, kan nog tot die einde van Donderdag, 24 Augustus met Erna in
verbinding tree deur 082 565 1085 te skakel of ‘n WhatsApp te stuur om jou bywoning te bevestig.

Related Articles

Back to top button