Local news

Water-en kragkrisis: Ons kan nie so aangaan nie

Die Handves van Menseregte en die Water Services Act bepaal dat elke Suid-Afrikaner die reg het tot basiese water en sanitasie dienste, en is die gebrek aan skoon drinkwater soos wat die dorp se inwoners daagliks beleef, 'n oortreding van hierdie regte.

Cogta en die VS regering is vandeesweek in ‘n skrywe van die DA gewaarsku dat die water- en kragkrisis in Parys, Tumahole en Schonkenville op ‘n ramp afstuur, met mense in sekere woongedeeltes wat vir 16 dae en langer al sonder water was. Bo en behalwe nasionale beurtkrag, gaan die dorp swaar gebuk onder daaglikse gedwonge munisipale rotasie beurtkrag. In die skrywe word dringende ingryping van die provin-siale regering by die Ngwathe munisipaliteit ter wille van inwoners gevra.
Die vrese wat in die skrywe uitgespreek word rondom watervoorsiening is nie ongegrond nie gesien in die lig van die onlangse Cholera-uitbreke in twee van die munisipaliteit se dorpe – Vredefort en Parys.

Die Handves van Menseregte en die Water Services Act bepaal dat elke Suid-Afrikaner die reg het tot basiese water en sanitasie dienste, en is die gebrek aan skoon drinkwater soos wat die dorp se inwoners daagliks beleef, ‘n oortreding van hierdie regte. Geen alternatiewe watervoorsiening is beskikbaar vir die dorp se inwoners waarvan baie ook bejaardes is, en sê die DA dat daar ook ‘n vermoede is dat met infrastruktuur gepeuter word om toegang tot water te verhinder as politieke instrument om onrus te veroorsaak.

Die dorp sit meer as ‘n jaar na beloftes vir ‘n noodkragopwekker by sy watersuiweringsaanleg, om verligting te bring vir urelange beurtkragure wat die aanleg tot stilstand bring, steeds sonder kragopwekker. Gereelde pyplekke en die uiters kommerwekkende toestand van die suiweringsaanleg, wat minder as die helfte van sy kapasiteit lewer, het die dorp op sy knieë met die ewige gesukkel vir water.

Nie eens die minister van waterwese en sanitasie, Senzo Mchunu, se aandrang dat die munisipaliteit dadelik ‘n noodkragopwekker by sy watersuiweringsaanleg moet kry, het al ‘n verskil gebring vir die daaglikse stryd van die dorp se inwoners nie.

Die situasie is die afgelope drie weke op die spits gedryf met die gesloer met die vervanging van ‘n pomp, en fase 6 beurtkrag tesame met munisipale beurtkrag wat watervoorsiening bykans onmoontlik gemaak het. En dan is daar die ewige pyplekke.
Inwoners van die woongebied naby aan die Rooidam in Derdelaan het teen Gazette se druktyd vir meer as twee weke aaneen gesukkel om water te kry. Die kontrakteur wat werk met die vervanging van kleppe op die pyplyn na reservoir 3, het sedert vroeg vandeesweek gewerk om ‘n lek hier te herstel en het water in die pyplyn begin inkom teen Woensdagoggend nadat die lek herstel is. Maar vir inwoners in die woongedeelte is dit ‘n jarelange probleem om water te kry met kleppe wat knaend toegedraai word om ander woongebiede water te gee.

Vryheidsfront Plus rdl. Marinda Matthysen -Engelbrecht wat saam met die kontrakteurs Maandag en Dinsdag by die pyplek was, het vroeg Woensdagoggend haar dank uitgespreek teenoor die party se bestuurspan asook DA rdl. Saal de Jager vir die hulp om die probleem in Vaal Parys aan te spreek.

Maar dis nie net die watervoorsiening wat pla nie. Knaende kragonderbrekings wat nie weens beurtkrag was nie, het inwoners sedert Maandag 3 Julie geteister.

Die DA het na die daelange kragonderbrekings gesê dat die party met sy ondersoek gevind het dat swak beplanning tussen die tegniese afdeling en die munisipale aankope afdeling daartoe gelei het dat noodsaaklike toerusting nie beskikbaar was nie, wat die langdurige onderbrekings veroorsaak het. Die gebrek aan terugvoer en verduideli- kings van die munisipaliteit het mense net nog warmer onder die kraag gemaak. Die kragonderbrekings en die uitdagings wat daar reeds is weens beurtkrag hou ‘n risiko in vir elektriese toestelle, met kragstuwings wat groot skade veroorsaak.

Rdl. De Jager sê die impak op inwoners se daaglikse lewens is beduidend, en die munisipaliteit se versuim om die kwessies vinnig en effektief aan te spreek, is onaanvaarbaar.
Ngwathe se Eskom-skuld staan nou op bykans R1,8 miljard en die gebrek aan ‘n formele ooreenkoms tussen Eskom en die munisipaliteit vir gereelde skuldvereffening bly ‘n knelpunt.
Ook die drukgroep Save Ngwathe en die burgerregte organisasie AfriForum het die afgelope twee weke hul kommer uitgespreek oor die ernstige probleme met dienslewering binne die Ngwathe munispaliteit en oënskynlike traagheid om krisisse aan te spreek.

Volgens Karien Viljoen van Save Ngwathe word al vir maande gesukkel met die munisipaliteit om antwoorde op vrae oor die waterkrisis te kry. Mense word gevra om krag te spaar en sit ure sonder krag en water, terwyl verwarmers in die munisipale kantore aangeskakel bly, het Viljoen gesê. Sy het ook gesê dat mense oor die naweek uit desperaatheid vir water selfs in begraafplase gaan water tap het by krane, maar dat geen antwoorde oor die naweek van die munisipaliteit se waarnemende direkteur vir tegniese dienste gekry kon word nie.

AfriForum, was genooi na ‘n onlangse vergadering in Parys met die minister van waterwese en sanitasie, Senzo Mchunu, wat ook deur afgevaardigdes van departement waterwese en sanitasie, en die Ngwathe munisipaliteit onder leiding van sy uitvoe- rende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, bygewoon is. Tydens die vergadering het Afriforum daarop gewys dat die organisasie reeds die afgelope drie jaar by die dorp se waterkrisis betrokke is.In September 2021 is ‘n ooreenkoms tussen Ngwathe en AfriForum onderteken waarin ooreengekom is dat die organisasie spesialisverslae sou kry oor die dorp se waterwerke en die rioolwerke. Tog het Ngwathe niks met die verslae gedoen nie, en kniehalter die munisipaliteit se bestuurskrisis verbruikers.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button