Local news

Ngwathe: ‘n Skip in stormwater sonder bemanning?

Senior bestuur se poste steeds vakant

Mnr. T. Ngese neem tans in die pos as munisipale bestuurder waar nadat hy deur die Vrystaatse provinsiale regering gesekondeer is om in die pos waar te neem tot Junie sodat die nodige prosesse deur die raad gevolg kan word om ‘n munisipale bestuurder aan te stel. Ngwathe se vorige munisipale bestuurder, Nonhlanhla Baleni, het bedank met ‘n 24 uur kennisgewing nadat sy net vyf maande lank die pos beklee het.


Maar wat behels die taak van ‘n munisipale bestuurder? VF Plus raadslid Phillip van der Merwe, wat ook ‘n prokureur van beroep is, verduidelik:

Die munisipale bestuurder is sonder twyfel die grootste rolspeler in die munisipale opset. Hy/sy is die rekenpligtige beampte van die munisipaliteit en as sulks primêr veranwoordelik vir die bestuur van die munisipaliteit se finansies. Hy/sy moet leiding en advies gee aan sy/haar personeel, asook aan politieke strukture en ampsbekleërs in die munisipaliteit ten einde te verseker dat deurentyd voldoen word aan die vereistes van die Munisipale Finansieswet en ander toepaslike wetgewing.

Buiten vir magte en bevoegdhede wat deur wetgewing aan hom/haar uitsluitlik toegeken word, kan die raad meer bevoegdhede ook aan hom/haar delegeer ten einde die administrasie en bestuur van munisipale sake meer effektief te maak. Met hierdie gedelegeerde bevoegdhede het hy/sy egter nie ‘n totaal vrye hand nie, en moet hy/sy so dikwels as wat die raad mag vereis, verslag doen oor besluite geneem en uitgevoer, ooreenkomstig die delegasie.

Hy/sy moet sy pligte vervul met eerlikheid, goeie trou en integriteit, en moet deurgaans in die beste belang van die munisipa- liteit optree. Hy/sy moet alle wesenlike feite wat beskikbaar is, of redelikerwys bekom behoort te kan word, en wat ‘n invloed op raadsbesluite mag hê, onder die burgemeester en raad se aandag bring om enige moontlike benadeling van die munisipaliteit te verhoed.

Dan is dit ook die munispale bestuurder se taak om toe te sien dat munisipale bronne effektief, kundig en ekonomies aangewend word en dat volledige rekords gehou word van alle finansiële sake en transaksies. Dit sluit in risikobestuur en die voorkoming van ongemagtigde, en/of onreëlmatige, en/of vrugtelose uitgawes of ander verliese, asook die neem van dissiplinêre en/of kriminele stappe teen enige persoon wat moontlik aan wangedrag skuldig bevind mag word.

Die munisipale bestuurder is verantwoordelik om toe te sien dat die munisipaliteit beskik oor beleidstukke en bywette, ook ‘n skuldinvorderingsbywet en verkrygingsbeleidstuk waarin reëls vir die aankoop van goedere/dienste, en die toekenning van tenders gereguleer word.

Interessant is dat die munisipale bestuurder nie self lid is van die komitee wat tenders toeken nie, maar wel ‘n oorsig- rol vervul om toe te sien dat die bepalings van die verkrygingsbeleid nagekom word. Meer interessant is dat raadslede geensins by sittings van die tenderkomitee of besluitnemingsprosesse teenwoordig mag wees nie – nie eers as waarnemers nie.
Die munisipale bestuurder is verder verantwoordelik vir bestuur van die munisipaliteit se bates, inkomste, uitgawes en spesifiek ook die koste verbonde aan die personeelkorps. Hy/sy moet toesien dat spandering slegs ooreenkomstig die goedgekeurde begroting geskied, en die raad inlig oor enige moontlike verwagte tekorte en oorspanderings. Waar nodig moet hy/sy aanbeveel dat die raad ‘n aanpassingsbegroting oorweeg.

‘n Verslag oor inkomste gerealiseer, en uitgawes aangegaan moet maandeliks aan die raad en Tesourie verskaf word.
‘n Munisipale bestuurder is dus primêr in beheer van alle aktiwiteite in die munisipa- liteit, en dra die finale verantwoordelikheid daarvoor.

Logies kan hy/sy so ‘n reuse taak nie alleen behartig nie, en het hy/sy dan ook senior bestuurders soos die hoof finansiële beampte en direkteure van die korporatiewe-, gemeenskapsdienste- en tegniese afdelings, aan wie hy/sy take kan delegeer, tot sy/haar beskikking.

Hierdie senior bestuurders taak dan weer hul personeel met verantwoordelikhede, en moet toesien dat hulle, die werksaamhede van die munisipaliteit uitvoer. Uiteindelik bly die munisipale bestuurder uitsluitlik die finaal verantwoordelike persoon wat aan die raad en Tesourie rekenskap van suksesse en mislukkings moet gee.

Related Articles

Back to top button