Local news

Hier gaan dit lekker waar die vingers wikkel deur die nagure

Selfs net jou aanmoediging vannag en more deur die dag kan al die wêreld beteken vir hierdie vroue wat 'n groot opoffering maak met vingers wat wikkel om ander te help. 

As jy vanaand deur Parys se hoofstraat ry, druk jou toeter of loer gou in by Anna Patat, want die vroue wat jy hier dwarsdeur die nagure deur die Eskom-donkerte en knypende Vrystaat-koue sien sit en hekel is hier vir een rede. Hulle wil ‘n verskil maak, want geen kind of bejaarde moet hierdie winter sonder ‘n kombers wees nie.

Die vroue het 12:00 vanmiddag die hekelnaalde opgetel vir die ATKV se  landwye 30 Uur Safari hekel-marathon wat môre Saterdag 27 Mei om 18:00 eindig. Eenduisend vyfhonderd mense op 90 verskillende plekke oor die land wat almal vanaand en môre hekel vir bejaardes, en kinders in kinderhuise.

So word daar blokke van 20 x 20cm gebrei of gehekel wat dan aanmekaar gewerk word vir die komberse wat uiteindelik iemand iewers sal warm hou.

Vir weke is beplan, wol, gare en naalde bymekaar gemaak, gees gevang met ‘Simon says’ om uiteindelik die naweek die hekelnaalde en slaapsakke nader te trek, want hier word gehekel, geklets, gelag, soms sak die ooglede en die koppe – maar aanhou sal hulle – 30 uur lank.

Die projek is die inisiatief van die ATKV Arendsnes-tak in samewerking met die Maak ‘n Verskil groep.

 

Jy kan ook kom help  of as jy nie kan hekel nie – borg ‘n ouma of iemand wat jy ken wat dit geniet om te hekel. Skenkings van ‘double knit’ wol en nr. 4 naalde is ook steeds baie welkom as bydrae tot die projek. Jy kan ook  blokke van 20cm x 20cm by jou huis hekel of brei, enige patroon (granny blokkies, corner to corner, ens.) solank dit so na as moontlik aan 20cm x 20cm is), en dit dan afgee by Anna Patat.

Komaan – maak iemand se hart warm met hierdie ongelooflike en onbaatsugtige uitreik.

Teen net na 17:00 vanmiddag was daar reeds 759 blokke en komberse saam getel by Anna Patat.

Ondersteun hierdie Parys vroue en maak ‘n verskil.

Selfs net jou aanmoediging vannag hier waar die ligte en kersvlamme deurnag brand, en more deur die dag kan al die wêreld beteken vir hierdie vroue wat ‘n groot opoffering maak met vingers wat wikkel om ander te help.

Related Articles

Back to top button