Local news

Oorweeg jy semigrasie? Doen dit nou, sê kenner

Alhoewel party mense na ander lande emigreer het om aan Suid-Afrika se oënskynlike sosio-ekonomiese agteruitgang te ontsnap, kan diegene wat besluit om te bly bloot na beter provinsies of areas ‘semigreer’.

 

 

Gauteng, met Johannesburg en Pretoria, is steeds die land se ekonomiese stukrag. Ondanks die feit dat dit die kleinste provinsie is, woon bykans 1 uit elke 4 Suid-Afrikaners daar. Dit dra ook meer as ‘n derde van BBP by (Stats SA 2017) en meer as 40% van verbruikerskrediet word binne sy grense toegestaan (Nasionale Kredietreguleerder K4 2022).

Daar bestaan egter lank reeds ‘n neiging onder Suid-Afrikaners om vermeende lewenstylvoordele na te jaag deur na ander provinsies te verhuis. “KZN en veral die Wes-Kaap is gunsteling-semigrasiebestemmings,” sê Renier Kriek, kenner op die gebied van nasionale eiendomstendense en medestigter van Sentinel Homes.

Verhoogde semigrasie
Voor Covid-19 het semigrasie dikwels een van twee vorms aangeneem.

Eerstens het besigheidseenhede of ondernemings in die geheel saam met hul werknemers na die Wes-Kaap of KZN getrek. Hierdie praktyk gaan steeds voort omdat ondernemings na beter dienslewering streef, soos Stad Kaapstad se vermoë om sy inwoners en ondernemings teen van die uitwerkings van beurtkrag te beskerm.

Die tweede vorm was mense wat uit hul werk bedank en ‘n salarisvermindering aanvaar het ten einde die sogenaamde ‘lewenstyldividend’ te geniet van nader aan die kus of op die platteland te woon, of wat besluit het om hul gesinne te verskuif en per vliegtuig na Gauteng te pendel ten einde dieselfde resultaat te behaal.

Ná Covid-19, wat werk weg van die kantoor af genormaliseer het, het ‘n derde variant van die semigrasietendens ontstaan. Afstandswerkers kan nou van feitlik enige plek af werk.

“Hierdie nuwe verwikkeling het aanleiding gegee tot verhoogde semigrasie na afgeleë of voorheen minder gewilde gebiede, soos klein kusdorpies, waarheen hele ondernemings en ongetroude werksoekers selde sou gegaan het,” sê Kriek.

Hierdie gebiede sluit Weskus-dorpe soos Langebaan, St Helenabaai en Paternoster in. Die rustige vissersdorpie St Helenabaai het byvoorbeeld, by die laaste telling, 23 eiendomsagente gehad wat elkeen ‘n aantal agente het wat eiendom verkoop of verhuur. Die eiendomsmark daar beleef ‘n opbloei.

Faktore wat mense na sulke bestemmings lok, is onder meer die begeerte om aan hoër vlakke van beurtkrag en misdaad te ontsnap, beter dienslewering, ‘n meer ontspanne sosiale omgewing, en belowende ekonomiese groei, werkskepping en infrastruktuurontwikkeling.

Gebiede wat in aanvraag is
Vir laerinkomsteverbruikers is die Wes-Kaap aantreklik as gevolg van sy laer werkloosheidskoers (21,6% vs 32,9% landwyd). Die provinsie verminder ook werkloosheid vinniger as ander dele van die land. Dit het ook ‘n voordeel wat infrastruktuur betref, soos skole en hospitale wat as superieur beskou word. Tussen Februarie 2022 en Februarie 2023 het voedselpryse in die Wes-Kaap met 12,4% gestyg, wat heelwat laer as Gauteng is (14,2%).

“Die semigrasietendens in die Wes-Kaap is redelik wydgerig, terwyl die noordelike kusgebied meer hoë-inkomsteverdieners uit Gauteng lok,” sê Kriek.

Werkloosheid in KZN (30,9%) en die Noord-Kaap (26,6%) is ook laer as die nasionale gemiddelde.

Impak van semigrasie
Alhoewel sommige gebiede die impak van semigrasie voel, sien ander ekonomiese groei as ‘n gevolg van hierdie instroming van nuwe inwoners.

Aan die een kant het voorheen gewilde plekke soos die noordelike en suidelike voorstede van Kaapstad besiger geword weens semigrasie, en die paaie rondom die stad toon tekens van oorlading.

Ander gunsteling-semigrasiebestemmings, soos Mosselbaai, geniet egter voordelige groei en verstedeliking. In die geval van Mosselbaai is dit danksy die nabyheid aan George Lughawe, wat dit maklik en gerieflik maak om na Johannesburg en Kaapstad te pendel.

Dit is ook hoogs waarskynlik dat die stroom semigrante na hierdie gebiede huispryse kan laat styg. Dit kan óf tot voordeel wees van plaaslike inwoners wat hul eiendom verkoop óf tot hul nadeel as hulle wil koop. Bestaande huiseienaars kan moontlik ook voor groter verhogings van munisipale belasting staan.

Pryse in die Kaapstadse metropool het reeds baie vinniger gestyg as in die ander stedelike gebiede. Hierdie faktor, tesame met die neiging om in tye van stygende rentekoerse groter waarde na te jaag, dryf kopers om eiendom in afgeleë gebiede te soek wat hul meer waarde vir hul geld kan bied.

“Hierdie tendens sal waarskynlik voortduur en kan selfs toeneem omdat dienslewering en infrastruktuurinstandhouding in die Wes-Kaap klaarblyklik ander dele van die land ver vooruit is,” sê Kriek.

Beskikbaarheid van eiendom
Die voorraad eiendom kan deur oorregulering van nuwe konstruksies belemmer word en die beskikbaarheid van bekostigbare behuising vir laerinkomsteverdieners verminder.

Namate vraag aanbod oorskry, sal huissoekers stellig meer aandag aan gebiede buite gevestigde stedelike en voorstedelike distrikte gee en dieselfde ekonomiese voordele en groei ervaar.

Volgens Kriek behoort voornemende semigrante dus so gou moontlik die sprong te waag.

“Behalwe semigrasie is daar ander tendense wat oorweeg moet word by ‘n besluit oor waar om te woon, en daarom is dit belangrik om deeglik te beplan. Rentekoerse is waarskynlik naby die boonste draaipunt in die rentekoerssiklus, en as jy dit kan bekostig sal jy waarskynlik in die toekoms beter daaraan toe wees, solank jy nou optree,” sê hy.

Related Articles

Back to top button