Local news

Frustrasie, woede oor krag- en waterkrisis

Petisie vandag aan munisipale bestuurder oorhandig. Die polisie en Openbare Orde Polisiëring lede monitor die situasie in Parys en Tumahole deurentyd.

Frustrasie en woede is besig om breekpunt te bereik in die Parys, Schonkenville en Tumahole gemeenskappe met die voortslepende krag- en waterkrisis in die dorp. Sedert wydverspreide prostesaksie in Januarie grootskaalse ontwrigting vir sakelui en skole veroorsaak het toe mense uit woede watertenks en bande in die strate gebrand het, het die probleme met watervoorsiening net vererger onder meer ook weens urelange kragonderbrekings en geen alternatiewe kragvoorsiening by die dorp ae warersuiweringsaanleg.

Vanoggend om 10:00 sal n memorandum en petisie met meer as 7 000 handtekeninge uit die gemeenskap oor die waterkrisis, aan die munisipale bestuurder oorhandig word.

Donderdagaand 11 Mei het lede van die gemeenskap ook in Tumahole byeen gekom  oor die water- en kragkrisis. Dit was baie duidelik dat daar groot ontevredenheid is oor die Ngwathe munisipaliteit se swak dienslewering en absolute onvermoë om  antwoorde aan sy inwoners te gee. Inwoners is bitter ontevrede oor noodnommers vir die aanmeld van diensleweringsprobleme wat nie geantwoord word nie, en/of geen antwoorde wat gegee word nie.

Mense in verskeie dele van die dorp het die afgelope 2 weke vir ure en dae aaneen sonder krag gesit weens talle probleme op die kragnetwerk. Dit afgesien van fase 6 Eskom beurtkrag en munisipale rotasie beurtkrag wat mense vir tot 13 uur en langer sonder krag of water gelos het.

Bykans ‘n jaar nadat daar tydens ‘n gemeenskapsvergadering voor die stadsaal beloof is dat dringend werk gemaak sal word van ‘n noodkragopwekker vir die dorp se wateraanleg, is daar steeds nie ‘n noodkragopwekker nie. Dié belofte is in Julie 2022 gemaak toe die dorp vir vier dae lank sonder krag en water was. In ‘n verklaring gister, Donderdag 11 Mei, deur die Ngwathe uitvoerende burgemeester, Victoria de Beer, is gesê die munisipaliteit is op dreef om ‘n kragopwekker by die wateraanleg te installeer en dat die advertensie om ‘n kontrakteur te kry vir die taak, op 5 Mei 2023 gesluit het. Ook dat die evalueringsproses hierdie week begin en dat ‘n kontrakteur binne die volgende veertien dae aangestel sal word.

Sy het in die verklaring gesê die munisipaliteit erken dat die proses vertraag is weens ‘onvoorsiene omstandighede’, maar dat die kwessie nou prioriteit is. Mense het egter op die verklaring gereageer en gesê dat dit vreemd is dat die verklaring so knap voor die gemeenskapsvergadering uitgereik is waar weer gedreig is om die dorp tot stilstand te ruk as die krag- en watervoorsieningsprobleme nie opgelos word nie.

Daar was geen begrip vir waarom bykans ‘n jaar al gesloer is met ‘n noodkragopwekker vir die wateraanleg of vir die munisipale rotasie beurtkrag wat huishoudings en sakeondernemings totaal lam lê bykomend tot Eskom beurtkrag.

Wat die waterkwessie aanbetref het die burgemeester gesê dat 65% vordering gemaak is met die pyplyn na reservoir 1 in die Ghana-woonbuurt in Tumahole, en dat die projek binne die 6 maande sperdatum voltooi sal wees, wat ‘n groot impak op inwoners van Ghana, Phelendaba, Sisulu en ander dele van Tumahole sal hê ten opsigte van watervoorsiening.

Die burgemeester sê in die verklaring dat die infrastruktuurontwikkelingskomitee besig is om die sakeplan te finaliseer wat by departement waterwese en sanitasie ingedien moet word vir die sink van boorgate hoofsaaklik in Tumahole.

Die verklaring noem ook dat na maande sedert die protesaksie wat die hulp van departement waterwese en sanitasie gevra is met die dorp se waterkrisis, daar ook nou geadverteer is vir ‘n kontrakteur om die hele wateraanleg op te knap en dat die sluitingsdatum vir aansoeke 24 Mei 2023 is.  Sy sê die kontrakteur sal voor einde Junie aangestel word “wat beteken dat ons binnekort ‘n behoorlik funksionerende aanleg met ‘n kragopwekkersal hê.”

Maar die vraag wat gevra word, is wanneer binnekort is nadat daar al vir maande aaneen gesoebat word vir water en mense eenvoudig nie meer kan met die onuithoudbare kragsituasie.

Teen vanoggend vroeg was die situasie in Tumahole nog kalm, hoewel dit gistermiddag met die vergadering reeds duidelik was dat mense nie meer tevrede is met beloftes oor die voortslepende diensleweringsprobleme.

Related Articles

Back to top button