Local news

Troue vriend, steunpilaar – so sal ons Nico onthou

Hy was 'n mense-mens. Iemand met 'n goue hart wat voortdurend besig was om te help om iemand se dag en situasie beter te maak.

 

Onselfsugtig en nederig. Dit is hoe Nico Uys onthou sal word. Iemand wat nooit geskroom het om te gee nie. Wat tyd gemaak het vir mense.
Nico is Maandag 8 Mei in die ouderdom van 66 jaar aan ‘n hartaanval oorlede. Nico se gedenkdiens word Donderdag 11 Mei om 13:00 vanuit die NG gemeente Vredefort gehou waar Nico se wortels diep geanker was. Hy het grootgeword in Vredefort en het ‘n ongelooflike passie vir die dorp en sy mense gehad.

Nico was nie net as sakeman in die dorp bekend nie, maar ook ‘n lid van die Parys-rolbalklub en Parys Rotary. Hy was baie lief vir sport maar veral rolbal was sy passie.

Sy kennis van bier en whiskey wat hy oor jare en met besoeke aan bierbrouery in Europa en die whiskey-kelders in Skotland versamel het, het hy graag gedeel.

Hy was ‘n mense-mens. Iemand met ‘n goue hart wat voortdurend besig was om te help om iemand se dag en situasie beter te maak.

Een van sy vriende, André, het in ‘n huldeblyk aan Nico geskryf: “Sou nou so bitter graag saam met jou ‘n vuurtjie wou gemaak het my ou maat, maar skiellik het ons Hemelse Vader jou so onverwags kom haal. Ek sal jou onthou as die vriend wat so baie gedoen het vir sy familie – wat so trots was op Sandra, jou kinders en jou kleinkinders, en ek weet jou liefde vir hulle was onbeskryflik groot. Ook ander mense wat in nood was, mense wat nie kos of water gehad het nie – jy was daar om te gee. So het ek jou geken – onselfsugtig en nederig.”

“Jy was ‘n pêl duisend, deur dik en dun ‘n viend vir my. Dit was ‘n voorreg om jou in my lewe te kon hê.”

“Jy is nie meer hier nie. Wie gaan nou saam met my ‘n patrys skiet? Die trane rol oor my wange, want ek mis jou al klaar my vriend….”
Nico sal in liefdevolle herinnering onthou word deur sy vrou, Sandra, sy dogter, twee seuns, skoonseun en skoondogters, sy vyf kleinkinders asook drie susters, ‘n broer, sy ma en skoonma.

Related Articles

Back to top button