Local news

Dit is hoekom Parys ‘n wendorp is – ‘n dorp wat sy besoekers met ope arms omhels

Parys het NOU JOU stem nodig Al wat jy moet doen is om die woord Parys te sms na 33157. Dertig stemme per SMS-nommer word toegelaat. Die koste is R1,50 per SMS.

Daar is min dorpe wat so onder jou vel kom lê soos Parys – die Vrystaatse afdruk van sy Franse naamgenoot wat geensins afsteek as dit kom by die romantiek en unieke karakter van die dorp nie.

Die juweel van ‘n dorp is steeds van die land se gunstelinge onder toeriste. Daaroor is geen twyfel nie, want soos in 2011, 2018, 2019 en 2021 is Parys weer aangewys as een van die drie gunsteling dorpe in die Vrystaat waaruit Kwêla-kykers en die res van die land nou kan stem vir die Vrystaatse-streekwenner in vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie.

Vir vanjaar se kompeitisie sal Parys sy sjarme moet wys teen Sasolburg en Clarens. Wat jy moet onthou is dat dit nie gaan oor munisipale dienslewering, slaggate of flou straatligte nie. Allermins.

Die wendorp wen ‘n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde en met dié ongelooflike advertensiewaarde kan dit help om selfs meer besoekers na die dorp te lok wat suiwer afhanklik is van toerisme as inkomste-bron. Dan is daar ook die groot makietie vir die wendorp, en R1 miljoen in kontant om die dorp te verbeter en te verfraai. Glad nie te versmaai nie.

Hoe stem jy?
Jy het net tyd tot Vrydag 5 Mei om 12:00 om te stem. Al wat jy moet doen is om die woord Parys te sms na 33157. Dertig stemme per SMS-nommer word toegelaat. Die koste is R1,50 per SMS.


Hoekom stem vir Parys?
Sommer so met die inry in die dorp as jy op ’n Saterdag die talle motorfietse in die hoofstraat sien – of die vele voete met rugsak en tekkies wat die strate invaar om egte plattelandse hartlikheid te ervaar, verstaan jy hoekom stedelinge hier hart verloor.

Dit is die dorp se kunskarakter, sy oudhede skatte, winkeltjies soos krale ingeryg langs die hoofstraat, en prag natuurskoon langs die Vaalrivieroewer, waarmee die dorp sy besoekers met ope arms omhels.

Dis die glimlagte van sy mense, al geselsend op sypaadjies en die rustigheid van ’n volmaak geskepte natuur wat jou die Vredefort Koepel se natuurwonders te voet wil laat verken. Jou huisbier wil laat proe by ’n tuisbrouery, jou die Vaal se witwater wil laat roei, en op ’n kabellyn oor Koepel-natuurskoon wil laat gly.

Dis hier waar jy wil lyn natmaak, en gaan lafenis soek by een van die dorp se unieke restaurante.
Ja, elke dorp het sy skaafplekke – té min water, té veel gate, ontoereikende munisipale dienste en wat meer – maar by dit als het Parys karakter en die mooi wat mense raaksien wanneer hulle naweek vir naweek na die Vrystaatse “Paris”stroom.

Dis hierdie mooi wat raakgesien is toe daar gestem is vir Parys as een van die finaliste in vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie.
Uit elke streek dring die drie dorpe met die meeste benoemings eers deur na die semi-finale rondte waar die publiek vir ’n week lank ’n geleentheid kry om vir hul gunsteling dorp te stem.

In 2018 was Parys die Vrystaatse-finalis. Kom ons doen dit weer!
Parys het NOU JOU stem nodig.

Al wat jy moet doen is om die woord Parys te sms na 33157. Dertig stemme per SMS-nommer word toegelaat. Die koste is R1,50 per SMS.

 

Related Articles

Back to top button