Local news

Daar was net geen keer aan die vlamme nie

Sakeman verloor alles in brand

Hoe beskryf jy in woorde die verlies van ‘n gesin na ‘n brand In ‘n oogwink vanoggend, Vrydag 28 April, alles vernietig het wat oor 16 jaar opgebou is by die onderneming MT Quads in Parys se hoofstraat? Die totale verslaentheid van ‘n man wat magteloos moes toekyk hoe alles waarvoor hy en sy vrou, Madelein gewerk het, afbrand tot op die grond. ‘n Onstuitbare golf van vlamme wat alles weggevreet het tot niks.

‘n Verslae Tommy Bucknall wie se onderneming, MT Quads, in Parys se hoofstraat, vanoggend in ‘n brand verwoes is. Hy het bykans alles verloor. Net ‘n handjievol goed kon gered word.

Knap voor 06:00 vanoggend het Tommy Bucknall, eienaar van die onderneming, die oproep van  Stephan Venter van Parys Sekuriteit gekry om te sê dit brand by ‘n afdak agter die houtwerkonderneming reg langs sy onderneming. ‘n Oproep wat vir altyd in sy geheue sal bly.

Stephan het die rook gesien toe hy uitgeroep is na ‘n alarm in Kerkstraat.

Tommy het hom na die perseel gehaas, bekommerd dat die brand op die buurperseel sou versprei na sy perseel. Toe hulle die eienaar van die houtwerk onderneming, Annelize Janse van Rensburg, nie in die hande kon kry nie, het hy en Stephan, en Tshitso Ketsise van die provinsiale verkeersdepartement wat ook die rook gesien het,  dadelik probeer om toegang te kry om die vlamme te stuit, maar dit was tevergeefs.

Die hout en brandbare materiaal op die perseel het die vlamme blitsig laat versprei na ‘n stoorkamer op Tommy se perseel waar onder meer antieke meubels van sy ouers gestoor was. Toe die gebou inmekaar stort het ‘n gasbottel  vlam gevat en het die brand voortgewoed oor sy perseel. Sy hele werkswinkel en ‘n boot wat in die werkswinkel was, sy gereedskap en motorfietse op die perseel, al sy voorraad en parte – alles is in die brand vernietig. Net Tommy se hond wat by die besigheidsperseel was, en ‘n handjievol goed kon gered word.

Helpende hande uit die gemeenskap het toe die eerste oproepe van die brand begin deurkom, by die toneel gekom, gehelp waar hulle kon. Vuurvegters gebring, water aangery, goed help uitdra . ‘n Gemeenskap wat laer trek as daar nood is.

Mense het in ongeloof gesien hoe die vlamme alles wegvreet. Selfs twee motors wat op die perseel van MC Conversions & Racing, aangrensend tot die perseel van MT Quads was, het hitteskade.

Die besigheid was Tommy se droom. Oor baie jare is hier motorfietse, kantsnyers, grassnyers, bootenjins, en noodkragopwekkers herstel.

Gister nog (27 April) was die onderneming oop tot 12:00 en  vanoggend sou hul twee enjins aanmekaar gesit het vir kliënte vir die langnaweek. Nou is  niks oor nie. Die skade aan parte en voorraad alleen beloop meer as R3miljoen.

Om veiligheidsredes  moet die perseel  na die brand ontruim word, maar Tommy gaan voort met die besigheid.

Mense kan hom skakel by 074 725 4346. 

Dankie aan Parys Sekuriteit in besonder Stephan Venter, CSS Security, Security Master, We Care, Tinus met sy private brandweervoertuig, Ngwathe Brandweer- en Nooddiens, Leeuwkop, Parys SAPD, mnr. Tshitso Ketsise van provinsiale verkeer, Parys Medics, IMR, die Pictor-gesin, en elkeen wat op enige wyse hulp op die toneel verleen het. Dit word opreg waardeer.

Related Articles

Back to top button