Local news

Skooljuffrou & vriende sit lewenslank na moord op Barries

Moord-onnie was glo 'n akademiese toppresteerder op skool totdat sy dwelms begin gebruik het

Uittreksels uit die berig het in Vaalweekbldad van 14 April 2023 verskyn.

Lees ook die hartroerende huldeblyk van ‘n oud-kameraad aan Chris (Barries) Barnard onder die nuusberig.

Drie inwoners van die Vaaldriehoek, onder wie ‘n voormalige Sasolburgse onderwyseres, is vroeër die maand in die hooggeregshof in Pretoria tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens die moord op die oud-Koevoetlid, Chris (Barries) Barnard (55), in Desember 2019.
Me. Corné de Beer (37), ‘n voormalige onderwyseres en ma van ‘n 11-jarige kind, en haar twee Vaaldriehoekse vriende, Wayne van der Walt (39) en Richardt “Jagter” Botha (39) is buiten hul lewenslange vonnise ook elkeen ‘n ekstra 13 jaar tronkstraf opgelê op aanklagte van diefstal en bedrog.
Die vermoorde Chris, wat vir private sekuriteitsdienste in die Midde-Ooste gewerk het, se liggaam is in Februarie 2020 in ‘n veld noord van Pretoria ontdek nadat hy reeds in Desember 2019 tydens ‘n vakansie in Suid-Afrika verdwyn het.

Die vermoorde Chris Barnard in sy jonger dae saam met sy ouers, Leon en Marlene Barnard, en sy suster Jenny.

Chris was ‘n geskeide man wat as terreinbestuurder vir ‘n Amerikaanse sekuriteitsonderneming in Irak gewerk het. Gedurende die bosoorlog was hy in Namibië en Angola aan Koevoet, die Polisie se spesiale taakmag, verbonde. Hy het in 2006 in Bagdad in die Midde-Ooste begin werk en konvooie tussen Koeweit en die weermagbasis in Irak begelei. Hy het sedert November 2017 as sekuriteitsbestuurder in Irak gewerk.
Chris sou die Desembervakansie van 2019 in sy huis in Annlin, Pretoria deurbring terwyl sy suster en haar man op vakansie in Mosambiek was. Hy het glo destyds baie daarna uitgesien om ‘n vriendin wat hy op Facebook ontmoet het, me. Corné de Beer, in Sasolburg te kom haal om ‘n paar dae saam met hom in Pretoria deur te bring.

Gedurende dié tyd het hy ‘n selfie van hom en mej. De Beer aan sy familie gestuur, maar sake het daarna ‘n vreemde wending geneem toe ongewone WhatsApp-versoeke van sy selfoonnommer af ontvang is om groot bedrae geld tussen sy bankrekeninge te verskuif. Sy familie het agterdogtig geraak en ‘n vriend gevra om ondersoek by sy huis in Pretoria in te stel, waar gevind is dat die huis leeggesteel en geplunder was. Daar was geen teken van Chris of sy voertuig nie. Sy familie het hom op 7 Desember 2019 by die Sinoville-polisiestasie as vermis aangemeld.

‘n Selfie wat Chris in 2019 tydens sy vakansie aan sy familie gestuur het nadat hy ‘n “oulike” Sasolburgse onderwyseressie ontmoet het. Min het hy toe geweet die sjarmante vrou, Corné de Beer, sou uiteindelik by sy moord betrokke wees.

Duisende rand is glo na sy verdwyning uit sy bankrekening onttrek. ‘n Intensiewe soektog deur die polisie en die private ondersoekdiens van Mike Bolhuis en Nolisat Investigations is daarna op tou gesit. Die analisering van selfoondata het die ondersoekers na die Vaaldriehoek gelei, waar me. De Beer op 24 Desember 2019 in verband met die saak in hegtenis geneem is. Sy was voorheen ‘n onderwyseres wat wiskunde en wetenskap by ‘n privaatskool in Sasolburg aangebied het. Dit het tydens die hofverrigtinge aan die lig gekom dat sy as kind uit ‘n goeie huis gekom het en ‘n top akademiese presteerder op skool was. Haar lewe het egter begin ontspoor toe sy met verkeerde vriende deurmekaar geraak en op 18-jarige ouderdom aan dwelmmiddels verslaaf geraak het. Sy het erken dat sy ook dwelms gebruik het in die tyd wat sy onderwys gegee het.
Na haar arrestasie is haar twee Vaaldriehoekse vriende, Richardt Botha en Wayne van der Walt, op 30 Desember 2019 ook in hegtenis geneem. Verskeie van Chris se persoonlike besittings en sy Jeep is in Vanderbijlpark in hul besit gevind. Net soos me. De Beer was hulle ook selferkende dwelmgebruikers.

Chris se liggaam is eers in Februarie 2020 deur ‘n voetganger in die Pienaarsrivieromgewing, noord van Pretoria, ontdek. Hy was met toue in ‘n duvet toegedraai en hoewel gevorderde ontbinding reeds ingetree het, is hy aan ‘n tandheelkundige plaatjie en ‘n tatoeëring van sy dogter se naam op sy rug, uitgeken.
Die drie beskuldigdes het dwarsdeur die hofsaak volgehou dat hulle Chris nie vermoor het nie en net saam met hom dwelms gebruik en gekuier het. Hulle het wel erken dat hulle goedere uit sy huis gesteel en bedrog met sy bankbesonderhede gepleeg het. Die hooggeregshof het die drie egter skuldig bevind aan Chris se moord en hulle daarvolgens gevonnis.

Wyle Chris se familie is woedend omdat die moordenaars sy naam na sy dood beswadder deur voor te gee dat hy saam met hulle dwelms gebruik het. “Hy was nie die soort mens wat dwelms sou gebruik het nie, en uit die aard van sy hoërisiko-werk sou hy dit buitendien nooit eers oorweeg het nie,” sê sy suster, mev. Jenny Mentz.
Buiten Jenny en ander familielede word Chris ook deur sy bejaarde ouers, wat albei reeds in hul tagtigs is, oorleef. Volgens Jenny verwerk hulle sy dood baie moeilik.

 

‘n Huldeblyk deur een van wyle Chris se oud-kamerade, Chrisjan du Preez….
BARRIES, ONS SAL NOOIT VERGEET NIE – ‘N HULDEBLYK UIT MY KOEVOET SAKBOEKIE:

W405927B, Konstabel Christiaan J Barnard, Bloedgroep O+, Koevoet Gevegsgroep Zulu Tango, roepsein: Zulu Tango2.

Kan nie onthou presies wanneer dit was nie, dink middel 1986, maar daai dag toe jy by ons stoor by Okave-basis aankom en sê jy moet by Zulu Tango wees, het ek so in die stilligheid gewonder, hoort hierdie man regtig hier? Hoe gou en hoe baie het jy my gedagte daai dag nie verkeerd bewys nie. Die Owambo’s het gou baie van jou gehou en baie respek vir jou gehad. Dit op sigself sê alles van ‘n man se karakter. Hulle aanvaar nie sommer net enigiemand so nie, maar eers as jy jouself bewys het.

Jy kon hard speel, maar nog harder werk. Nooit het jy lyf weggesteek nie, in die basis en in die bos. Jou kant het jy altyd gebring en jy het baie vinnig geleer hoe die dinge werk en waaroor dit gaan. In die bos het jy vreesloos gewerk en was veral goed met voorsny. In kontakte het jy nie lyf weggesteek nie en verantwoordelik en akkuraat met jou masjiengewere geskiet. Daar is egter een kontak wat altyd sal uitstaan, en tot my spyt het ek dalk nie genoeg vir jou dankie gesê vir daai dag nie.

Op 16 April 1987 ry ons in ‘n ambush in net Wes van die Miershoop weermagbasis. Omtrent 30 Typhoons het vir ons gelê en wag daai dag. Jy het net agter my gery en ek het net oor die FM radio begin sê die karre moet uitsprei en langs mekaar in ‘n shona inry, toe my radio se handstuk uit my hand uitgeskiet word met ‘n AK47. Alle hel het losgebreek en my kar is reg in die middel van die doodsakker uitgeskiet. Daar was geen radio-koms nie want altwee my radio’s is ook uitgeskiet met ‘n heatstrim.

Dit het ek nie gesien nie, maar die Wambos het my later vertel jy het kopgehou en rondom my kar gesirkel en die fokkers se koppe laag gehou met jou .30 Brownings.  Jou kar het ook RPG en heatstrim vuur getrek en dit het gemaak dat ons kon herstel van die aanvanklike skok en begin terugskiet. Dit het ook tyd gegee dat van die ander karre kon bykom en effektief vuur lewer. Toe altwee jou .30 Brownings se belde leeggeskiet was het jy vinnig onttrek, herlaai en weer die kontak ingery. In kort, die feit dat ek vanaand hier kan tik, is te danke aan jou! As jy in die weermag was het jy defnitief ‘n Honorus Crux-medalje ontvang vir daai dag. Weereens dankie, respek en saluut!

Nou is jy vermoor, vir ‘n paar besittings, jou rooi Jeep en R240 000. Jou dood slaan my hard. Mag die Almagtige Vader die verpestings wat dit gedoen het straf soos wat Hy nodig ag. Daar is nog so baie om oor jou te vertel, maar kom ons volstaan vir eers net met die? Mag jy daar waar jy is, rus, geluk en vrede vind en alles kry wat jy nog altyd verdien het.

Tot ons weer sien, Barries, my vriend. Groete. Chrisjan.

Wyle Chris (Barries) Barnard tydens sy werksjare in die Midde-Ooste
Corné de Beer (37), ‘n voormalige onderwyseres by ‘n privaatskool in Sasolburg, is saam met haar twee makkers tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Richardt “Jagter” Botha en Wayne van der Walt, wat saam met die onderwyseres Corné de Beer lewenslank tronk toe gestuur is weens die moord op Chris Barnard.

Related Articles

Back to top button