Local news

Kweek ’n liefde vir wiskunde by jou kind.

Suid-Afrika vaar nie te waffers op die wêreldranglys vir wiskundeprestasie nie, en daarom is dit noodsaaklik dat ons die wiskundemonster vierkantig in die oë kyk en vir eens en vir altyd wys ons kán!

 

 

Ons gesindheid teenoor wiskunde word direk aan ons kinders oorgedra en kort voor lank sit ons met ‘n kind wat bang is vir die vak en nie die selfvertroue het om te probeer nie. Maar, dis nooit te laat nie en met die nodige aanmoediging en hulp, kan die meeste kinders wiskunde baasraak.

Dis hier waar ouers ‘n groot rol kan speel, want afgesien van wat jou ervaring was, daar is deesdae soveel hulp en raad beskikbaar dat die meeste van ons kinders goed kan vaar in wiskunde, veral as ons hulle toelaat om in hulle moedertaal onderrig te word. Afrikaans.com gee riglyne oor wat ouers en onderwysers kan doen om kinders van kleins af nuuskierig te maak oor die wonder van getalle sodat hulle sommer vroeg al syfers met selfvertroue sal aanpak.

 

Die kind moet glo hy kan

 

  • Die kind wat glo hy kan iets doen, het meer selfvertroue en sal meer geneë wees om te probeer.  Daarom is dit belangrik om die kind se sterkpunte uit te lig, want dit help om sy selfvertroue te versterk wat sal help om wiskundige vaardighede baas te raak.
  • Verseker hulle dat dit oukei is om nie die eerste keer reg te wees nie en dat hulle weer kan probeer. Op die manier word die kind subtiel gelei om anders of logies te dink om by die antwoord uit te kom.
  • Moenie die kind verkleineer nie – dit is ‘n ouer en opvoeder se taak om ‘n kind te koester en hulle selfvertroue te versterk – nie om die kind af te breek nie.
  • Verduidelik hoekom wiskunde ‘n belangrike lewensvaardigheid is en dat ‘n mens dit elke dag oral en op verskillende vlakke gebruik. (Dink maar net aan wanneer ‘n mens jou maandelikse begroting moet uitwerk, of wanneer jy ‘n beroep beoefen en daar van jou verwag word om wiskundige beginsels toe te pas op onder andere grafieke en diagramme om ‘n verslag te skryf.)
  • Let op jou kind se leesvaardigheid, want leesvaardigheid en wiskunde gaan saam. Om met selfvertroue en met begrip te kan lees, dra by tot jou kind se getalbegrip. Die kind moet die wiskundevraag met begrip kan lees om te weet watter stappe om te volg om by die antwoord uit te kom.

 

Hoe kan ouers en onnies help

 

  • Dit is belangrik dat die ouers en onderwyser saamwerk en dat die ouers op hoogte gehou word met waarmee die kind in die klas besig is. Sodoende kan die ouer die werk tuis versterk. Bv.
  • Sê vir jou kind: “Verduidelik vir my waaroor gaan dit.” – Die kind herhaal vir die ouer wat hy geleer het.
  • Versterk begrippe deur daaroor te praat.
  • Bespreek hoe wiskunde in ons wêreld gebruik kan word.
  • Indien die kind geen belangstelling in wiskunde het nie, kan ouers en die onderwyser ook saamwerk om die kind se nuuskierigheid en selfvertroue te help ontwikkel. Dit lei dikwels tot ‘n ommekeer in gesindheid en kort voor lank besef die kind dat hy wel wiskunde kan doen. Die sogenaamde “ek kan”-gesindheid.
  • Maak wiskunde pret en realisties. Dink aan ander innoverende maniere om die vak aan te bied.
  • Dit is belangrik om vas te stel waar die gaping in die kind se kennis van wiskunde lê en dan ‘n stappie terug te neem om op ‘n konkrete vlak die kind te help om dit op daardie vlak te bemeester. Op die manier sal hy dan die volgende begrip kan verstaan en uiteindelik sy wiskunde op peil kry.

Hendrik de Kock, Wolkskooldosent by die Skoleondersteuningsentrum, gee die volgende 10 wenke om ‘n liefde vir wiskunde by jou laerskoolkind te kweek:

  1. Taal en wiskunde gaan hand aan hand, daarom is dit belangrik om die onderrigtaal goed te verstaan (dink hier aan moedertaalonderrig), sodat die kind wiskundige begrippe soos groter as en kleiner as sal verstaan.
  2. Vestig getalbegrip. Om die kind slim metodes of truuks te leer om wiskunde aan te leer, word afgeraai, want begrip is die belangrikste.
  3. Fundamentele en basiese wiskunde. Dis belangrik om die basiese reëls te ken, soos volgorde van bewerkings en vermenigvuldigingstafels.
  4. Hulpmiddele. Gebruik telrame, albasters, blokkies, ensovoorts.
  5. Wys op relevansie. Wiskunde is oral om ons, bv. in resepte as ‘n mens kosmaak en hoeveelhede moet afmeet, om tyd en afstand aan te dui, om kombinasies van byvoorbeeld tyd en afstand aan te dui (hoe ver kan ek ry as ek drie ure teen 60 km/h ry, ens.).
  6. Speel wiskundespeletjies. Dit maak die aanleer van wiskunde prettig. Speel bordspeletjies soos ludo, slangetjies-en-leertjies. Gebruik jou verbeelding – daar is soveel dinge rondom ons wat getel kan word.
  7. Gebruik die beskikbare tegnologie tot jou kind se voordeel. Laat hulle toe om wiskundespeletjies op die rekenaar te speel.
  8. Vergeet van reg en verkeerd. Fokus liewer op logika om by die korrekte antwoord uit te kom. Dit kweek kritiese denke en probleemoplossingstrategieë.
  9. Let op jou woorde om ‘n wiskunde-selfbeeld te bou. Hou dit positief, m.a.w. sê: “Wiskunde is lekker en groot pret!” Moenie etiketteer deur byvoorbeeld te sê dat wiskunde net vir “slim mense” is nie. Moenie die onderwyser afkraak nie. Waak oor daarteen om jou kind te veel te prys, want glo dit of nie, so ‘n kind kan uiteindelik ‘n vrees ontwikkel vir mislukking. Gesonde aanmoediging word aanbeveel.
  10. Word wiskundig fiks. Maak seker jou kind weet dat dit harde werk verg om te presteer. Ons weet dit is goed om elke dag vir ons kinders voor te lees – net so is dit ook belangrik om elke dag wiskunde saam met jou kind te doen. Uitdeindelik sal hulle nie bang wees vir wiskunde nie en ook besef dat dit nie saak maak hoe goed hulle in wiskunde is nie, maar dat dit wel saak maak hoe hulle daaroor voel.

Related Articles

Back to top button