Local news

Vrystaat se paaie sal R29 miljard kos om te herstel

“Dispute tussen kontrakteurs en die departement is tans sub judice. Intussen bly broodnodige herstelwerk aan paaie onafgehandel”.

‘n Bedrag van sowat R29 miljard is nodig om paaie in die Vrystaat te herstel.

Dit is die antwoord wat aan die VF Plus gegee is deur die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer tydens ʼn portefeuljekomitee-vergadering.

Die totale begroting vir die Vrystaat beloop sowat R41 miljard – die herstel van die provinsie se paaie sal dus 70% van die totale begroting beslaan.

Armand Cloete, VF Plus-LPW: Vrystaat het in ‘n mediaverklaring gesê “dit is onhaalbaar”.

“Hierdie departement se huidige begroting vir die komende finansiële jaar is R3,3 miljard wat aangewend moet word vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer.

“Voorts het die departement ook erken dat vyf padkontrakte tans deur regsprosesse beslis word. Die waarde van die projekte beloop meer as R98 miljoen.

“Dispute tussen kontrakteurs en die departement is tans sub judice. Intussen bly broodnodige herstelwerk aan paaie onafgehandel”.

Hy sê ook in ‘n verklaring daar is verskeie eise vir skade en beserings van padgebruikers teen die departement weens die toestand van die Vrystaat se paaie. Die eise beloop meer as R65 miljoen.

“Die astronomiese bedrae wat die Vrystaat benodig om paaie ten volle te herstel, is die gevolg van byna drie dekades se wanbestuur, verkeerde begrotingsprioriteite, gefaalde swart ekonomiese bemagtiging en korrupsie onder die ANC-regering,” sê Cloete.

Die VF Plus het reeds skriftelike antwoorde van die departement ontvang oor watter kontrakteurs die afgelope vyf jaar aangestel is om paaie in die provinsie te bou en herstel ten einde die patroon van toekenning van kontrakte na te speur.

Related Articles

Back to top button