Local news

Ontdek meer oor jou herkoms met genealogie werkswinkel

Isabel Groesbeek gaan tydens die werkswinkel belangstellendes touwys maak oor waar hul met hul familiegeskiedenisnavorsing moet begin.

Is jy nuuskierig oor jou familie-stamboom en herkoms, maar weet nie waar om te begin nie? Indien die antwoord ja is, moet jy Saterdag, 6 Mei 2023 met rooi in jou dagboek omkring.

Isabel Groesbeek, ‘n gerekende genealoog en voormalige hoof van die FAK-genealogielessenaar bied op 6 Mei 2023 vanaf 09:00 tot 15:00 haar beproefde “Van waar Gehasi” genealogie werkswinkel vir beginners by die Potchefstroomse Hoofmuseum (h/v Sol Plaatjie en Wolmaransstraat) aan.

Om jou familiegeskiedenis na te vors, is soos om ‘n reuse legkaart te bou. Elke legkaartstukkie het ‘n plek en skakel met ander stukkies. Saam vorm dit ‘n prentjie. Die pret is om die legkaartstukkies te vind en op die regte plek te plaas. So ook het die mens die behoefte om te weet waarvandaan hy/sy kom en waar hulle in die groter geheel inpas.

Isabel gaan tydens die werkswinkel belangstellendes touwys maak oor waar hul met hul familiegeskiedenisnavorsing moet begin, die groot verskeidenheid bronne wat geraadpleeg kan word vir inligting en hoe om die inligting aan te teken sodat dit vir die nageslag bewaar kan word. Sy gaan ook wenke deel en slaggate uitwys wat vermy moet word.

Volgens Isabel is genealogie ‘n stokperdjie wat deur jonk en oud in hul eie tyd beoefen kan word. Genealogiese navorsing is ‘n ryk-geskakeerde onderneming vol verrassings, belonings, uitdagings en soms frustrasie. Dit kan nie sommer in ‘n dag of wat afgehandel word nie – daarom is dit so boeiend.

Ongelukkig gaan inligting oor voorgeslagte verlore, omdat dit nie betyds opgeteken word nie. Met die afsterwe van ‘n familielid besef ‘n mens helaas dat die geleentheid om inligting oor die betrokke persoon te bekom vir ewig verlore is. Moet dus nie die geleentheid laat verbygaan om te leer hoe jy te werk moet gaan om jou voorgeslagte se geskiedenis na te spoor nie.

Isabel het reeds diep spore in die genealogiese wêreld getrap. As gevolg van haar volgehoue poging om genealogie in SA te bevorder, is sy deur die Genealogiese Genootskap van S.A. vereer met hul hoogste toekenning, naamlik die van Genoot. Sy is ook sedert 2008 die inisieerder en organiseerder van die jaarlikse Genealogie- en Familie-erfenisfees wat in Pretoria gehou word. Hierbenewens is sy ook die skrywer en medeskrywer en/of redakteur van talle publikasies en artikels oor familiegeskiedenis.

Die koste van die kursus beloop R120 per persoon is en vooruitbetaalbaar.

Kontak gerus vir Elmarie Weyers by elmarieweyers2014@gmail.com of Miems Lamprecht by 018 2995021 voor 1 Mei 2023 om jou plek te bespreek.

Die rekeningbesonderhede van die Noordwestak van die Genealogiese Genootskap sal dan aan belangstellendes deurgegee word.

 

 

Related Articles

Back to top button