Local news

Ottosdal se strate stil van verbasing toe die swepe klap

FAK beskou ossewatrek as ’n lewende monument

 

Ossewa-trek vat ‘n man op ‘n perd selfs in hedendaagse tye. Hiervan kan ‘n groep van by die 30 mense getuig wat Sondag 26 Maart  die 40km ossewa-avontuur oor 7dae oor Ottosdal se vlaktes aangepak het. Iets wat Ottosdal se mense nog nie so beleef het toe die swepe die dag geklap en die wawiele begin rol het.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het  die osse  ingespan en op trek gegaan tydens ’n  projek wat saam met die Trekboervereniging, die Rapportryers en verskeie volkspelelaers (waaronder Vleilaer, Gemsboklaer, Bloemhoflaer en De La Reylaer) aangepak is.

Vir ‘n week lank is daar in ‘n sirkelroete rondom Ottosdal getrek.

Sommer vroegdag Maandag op die eerste trekdag, het dit Job se geduld gevra met die inspan van die osse voor die waens, met een groep osse wat net wou hardloop.

So breek die osse toe ook een van die waens se disselbome wat  eers herstel moes word voordat daar verder getrek kon word.

Maar niks kon die groep avonturiers se entoesiasme demp nie, en is daar selfs kamp opgeslaan langs die plek waar Siener van Rensburg begrawe is, en gaan kyk na dié graf.

Na elke dag se opwinding is daar in spanne om die buurt om die kampvuur kos gemaak.

Die waens het elke dag sowat 6-8 kilometer ver getrek, en is daar na die week op 1 April finaal uitgespan en die laers opgebreek.

Vanjaar is dan ook die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en sal die osse met Gelofteweek later vanjaar weer ingespan word om Bloedrivier toe te trek.

Maar so iets gebeur nie oornag nie, vertel Jan-Danie Malan, die FAK-organiseerder van die projek.

“Die osse moet geoefen wees en ervare genoeg wees om die lang pad aan te durf. Dit neem ’n minimum van nege maande om een os op te lei vir só ’n trek en dan moet die os nog ervaring opbou.” Die Ottosdal-trek was dus ‘n goeie oefenlopie vir die osse vir die trek wat later vanjaar plaasvind.

In die Ottosdal-trekgeselskap was daar 33 mense en vier ossewaens.

Die trek was propvol kultuuraktiwiteite. Kinders het Volkspele gedans en kleiosse gemaak. Daar was ’n demonstrasie van ’n 1809-voorlaaier. Net soos die Voortrekkers van ouds, is daar elke oggend en elke aand boeke gevat en in die aande volksliedjies om die kampvuur gesing.

Vir trekboer Piet Breytenbach van die Trekboervereniging was hierdie trek ’n besonderse ervaring.

Rein en Piet Breytenbach.

“Ek het al voorheen getrek, maar wat hierdie keer so besonders gemaak het, is dat ek my trekervaring kon deel met ander.”

Breytenbach brei uit en vertel dat hy regtig in detail kon vertel en wys hoe ’n ossewa werk, hoe om osse in te span, waarom hierdie os só werk en ’n ander os anders opgelei is en dus anders reageer.

 

“Wat ons ervaar het, is iets wat mens vandag net in boeke lees,” sê Jaco Jansen van Rensburg van die Trekboervereniging. “Ek wil graag ’n lewende geskiedenis deel. Ek wil hê dit moet nie doodloop nie. Dis ’n belewenis om in die natuur te kan wees, met my osse te werk en weer vir ’n slag my osse in te span en op trek te gaan.”

 

Tydens die trek is Voortrekkerdrag gedra. Die trekgeselskap het ervaar hoe die Voortrekkers van ouds geleef het – blootgestel aan die elemente, met net die natuur en die items in jou ossewa tot jou hulp,” sê Malan.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button