Local news

‘Hy sou nooit verbystap sonder om te hoor hoe dit gaan nie’

Thys van Zyl was 'n mense-mens

Sy glimlag het in sy oë gaan lê as hy jou iewers sou raakloop en sommer net wou hoor hoe dit gaan. Dit was daardie opregte belangstelling in mense waarvoor Parysenaars Thys van Zyl sal onthou.
Thys is op Saterdag 8 April in die ouderdom van 78 jaar aan kanker oorlede. Beenmurgkanker is in 2022 by hom gediagnoseer, en het dokters hom in Februarie vanjaar meegedeel dat die kanker in Leukemia omgesit het. Sy gesondheid het die afgelope maand baie agteruitgegaan.

Thys was iemand wat lekker kon gesels en tyd gemaak het vir ander. ‘n Sagmoedige en rustige mens wat vir jare deel was van die Gideons, die Rapportryers en die kerkraad van die NG gemeente Parys-Wes.
Hy het in 1989 van Cradock na Parys verhuis. Thys het aanvanklik in die bank gewerk, en het nadat hy in 1992 weg is by Saambou, ‘n pos by die munisipaliteit aanvaar waar hy werksaam was tot en met sy aftrede in 2010.
Die gedenkdiens vir Thys word Vrydag 14 April om 11:00 vanuit die Wes-gemeente gehou.
Thys sal in liefdevolle en teer herinnering onthou word deur sy seuns, Gerhard en Thys, twee kleinkinders, ‘n broer en ‘n suster.

Related Articles

Back to top button