Local news

Sunette Bridges onthou Pa Bles se laaste groet

"Dankie dat Pa daai dag die konsertbaadjie en die rose vergeet het en ons drie maal kon groet!"

Op 24 Maart vanjaar was dit 23 jaar gelede dat aanhangers van Bles Bridges die skoknuus gekry het dat ‘n motorongeluk naby Bloemhof in Noordwes, sy lewe geëis het. Hy was 54 jaar oud. Dié geliefde en legendariese sanger uit die Vaaldriehoek is op 3 April 2000 uit die NG Gemeente Driehoek in Vanderbijlpark begrawe – een van die grootste begrafnisse ooit in die dorp.

Sy dogter Sunette, wat nou in Amerika woon, het verlede maand op die herdenking van sy sterfdag, dié hartroerende boodskap op haar Facebook-blad geplaas:
“Ek soek ‘n foto van Pappa om te plaas vandag. Ek wens daar was ‘n nuwe een, maar ek het die albums al ‘n duisend maal deurgeblaai om na ons fotoverhaal te kyk, maar dit stop nou al vir jare op dieselfde tyd en plek… skielik, sonder ‘n sprokie-einde, met byna ‘n kwarteeu se oomblike sonder Pa se lag. Ek word hierdie jaar so oud soos Pappa was. Dis ‘n vreemde gevoel, so half onwerklik. Ek sal Pa nooit ophou mis nie.”

Met Sunette se toestemming het Parys Gazette se susterskoerant, Vaalweekblad, haar herinneringe van die dag toe sy haar pa die laaste keer gesien het, gedeel:

24 Maart 2000: Pa het twee keer omgedraai en teruggekom huis toe daai dag. Die eerste keer vir die konsertbaadjie en toe vir die rose. Ons het drie maal gegroet, elke keer met ‘n druk, ‘n soen en ‘n lag, ‘n “Ry mooi! Sien Pa more! Is Pa seker Pa het nou alles?”
Pa was skaars by die hek uit – vir die derde keer – toe ek die lap wat ek weggesteek het, uit die kas haal en agter die naaldwerkmasjien inskuif om die gordyne te maak vir Pappa se kantoor. My verrassing aan hom vir die “Groot Dag” by die nuwe duiwehokke. Ek sou deurnag moes werk om dit gemaak en opgehang te kry voor Pa-hulle weer terug is, maar ek was reg! Die kinders se kossies was reeds gemaak en reg vir aandete. Ek’t gewerk dat die rook draai! Teen 6 uur was ek ampertjies halfpad en het gou gestop om die kinders te bad, kos te gee en in die bed te sit. Dadelik weer aan die werk gespring.
Dit was so rondom elf-uur die aand toe Pa bel en sê hulle ry huis toe ná die konsert en ek moet asseblief tee en kaasbroodjies regsit. Hulle behoort teen halfdrie die oggend by die huis te wees. My maag het bollemakiesie geslaan! Ek dog Pa-hulle slaap oor! Skielik het ek vier minder ure om klaar te maak, so ek moes wikkel, maar ek’s opgewonde! Ek weet sommer Pa gaan mal wees oor die gordyne en al die ander goedjies wat ek aangeskaf het om sy kantoor mee te versier.
‘n Rukkie later bel Pa om te sê hulle is in Bloemhof, gooi brandstof in en koop “chippies en Coke”. En Pa vra of ek onthou het van die kaasbroodjies en tee. Dié staan toe reeds reg op die kombuistafel, toegedraai in “Gladwrap”.
Tien minute later lui die huisfoon weer en ek vererg my sommer. Wie bel die tyd van die nag! Ek antwoord: “Hallo, dis Sunette.”
“Sunette, dis Pieter,” verklaar ‘n vreemde stem. “Ja? Kan ek jou help?” antwoord ek vies. “Sunette, daar was ‘n ongeluk. Jou pa is dood.”
Ek smyt die foon neer! Dit moet ‘n verkeerde nommer wees. Ek draai om en loop terug na die naaldwerkamer, maar die foon lui weer. Ek is te bang om te antwoord, maar tel op en begin die man dadelik skel!
“Wie is jy? Watse siek grap is die!” gil ek. “Sunette, jou pa en ma was in ‘n ongeluk. Ek staan hier by die kar. Jou ma het my die nommer gegee. Hulle is op pad hospitaal toe met haar. Jou pa is dood.”
Wat daarop gevolg het, is lewenslank op my brein en in my hart gegraffeer. Die chaos, die kinders, die hardloop in die straat af na Tannie Elna… Die trane, die histerie en die kalmte, die oproep na my broer…
Dankie dat Pa daai dag die konsertbaadjie en die rose vergeet het en ons drie maal kon groet. Dankie dat Pa vir die een of ander onverklaarbare rede, daardie dag nie vir Ashleigh (kleindogter) saamgevat het nie… Ek is jammer dat ek nie die kantoor gaan klaarmaak het nie. Ek is jammer as ek in die 29 jaar wat Pa vir my geleen was, nie genoeg keer dankie gesê het of “Ek is lief vir Pappa” nie. Ek is jammer dat ek soms so rebels en opstandig was, selfs wanneer ek geweet het Pa is reg.
Ek mis vir Pa en wens Pa kon sien hoe goed dit met my en die kinders gaan en dat Pa kon deel in die ongekende vreugde en vrede wat ons die afgelope dekade beleef. 24 Maart 2000 is vir ewig in my hart ingebrand.

Sunette, dogter van die ontslape sanger Bles Bridges.
Bles en Leonie Bridges toe hy op die hoogtepunt van sy suksesvolle sangloopbaan was.

Related Articles

Back to top button