Local news

Groot verleentheid oor video na argument

'n Vuurwarm argument tussen senior munisipale amptenare in die Ngwathe munisipaliteit se tegniese afdeling, wat 'n vergadering verlede Woensdag in totale chaos laat ontaard het, het gesorg vir die spreekwoordelike storm in die teekoppie toe die argument op video vasgelê is.

Dié video is aan Free State Central News gelek, en op sosiale media versprei.
Nadat die Gazette die Ngwathe munisipaliteit se aandag op die video gevestig en kommentaar oor die insident gevra het, is ‘n verklaring dieselfde dag uitgereik waarin verskoning gevra is vir die insident, asook vir die verspreiding van die opname van die argument.
Die munispaliteit het in sy verklaring die gedrag op die video as onprofessioneel en onaanvaarbaar beskryf, en “in teenstelling met die munisipaliteit se waardes en beginsels”.
Die munisipaliteit sê dat die aangeleentheid intern hanteer word, en dat ‘n ondersoek gedoen sal word om vas te stel wat tot die argument aanleiding gegee het, sodat stappe geneem kan word.
Die verklaring sê dat kommentaar op die video op sosiale media wat die indruk geskep het dat die voorval verband hou met die munisipaliteit se uitdagings rondom watervoorsiening, onwaar is, omdat die argument nie oor watervoorsiening was nie, maar ontstaan het tydens ‘n vergadering tussen die tegniese direkteur en personeel van die munisipaliteit se rioolafdeling.
Die munisipaliteit het inwoners weer die versekering gegee dat watervoorsiening ‘top prioriteit’ is.
Saterdag is ‘n opvolgverklaring ook op Facebook geplaas waarin gesê word dat die munisipaliteit die aangeleentheid in ‘n baie ernstige lig sien, en dat ten einde ‘n regverdige en deeglike ondersoek na die voorval te kan doen, die burgemeester met die betrokke individue op die video sal vergader. Die nodige stappe sal dan gevolg word in lyn met aanbevelings van die munisipaliteit se menslike hulpbronne afdeling, is gesê. Inwoners is ook verseker dat die optrede van amptenare nie dienslewering sal beïnvloed nie.
Raadslede met wie Gazette gesels het oor die insident op die video, het genoem dat die tegniese direkteur al deur die raad se infrastruktuurkomitee aangespreek is omdat sy departement nie na wense presteer nie, en daar duidelik konflik is tussen sommige van die senior bestuur van die departement.
Die raad se infrastruktuurkomitee het onder meer sy kommr uitgespreek oor spesifiek die onderbesteding van toegekende kapitaalprojekte.
In die 2021/22 boekjaar is vir ‘n projek van die departement waterwese en sanitasie waarvoor R79 m toegeken is, net R39 m spandeer binne die gegewe tydsraamwerk vir die projek. Van die WSIG (Water Services Infrastructure Grant) toekenning van R26,5 m kon net R21,2 m spandeer word, wat ‘n ongespandeerde R5,3 m laat. Vir ‘n MIG (Municipal Infrastructure Grant) projek waarvoor R44,2 m toegeken is, is net R36 m spandeer, terwyl vir ‘n INEP (Integrated National Electricity Program) toekenning van R10 m net R1,1 m spandeer is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button