Local news

Divan het nuwe wiele baie nodig

Met Divan se fisiese agteruitgang en die vervorming van sy postuur, het hy 'n rolstoel wat by sy unieke liggaamsbou sal pas, dringend nodig om vir hom verligting vir sy chroniese pyn te gee.

Divan Groenewald het verlede week sy 23ste verjaardag gevier en soos baie ander jongmense van sy ouderdom, sal daar vir hom geen groter geskenk wees as nuwe wiele nie. Maar dit is nie die wiele van ‘n blink nuwe motor wat Divan nodig het nie. Vir dié dapper jongman is daar dringend rolstoelwiele nodig om verligting te gee vir sy chroniese pyn.

Divan ly aan ‘n baie seldsame en ongeneeslike degeneratiewe siekte – Mohr Tranebjearg-sindroom, wat op 3-jarige ouderdom by hom gediagnoseer is. ‘n Siekte waarvan so min as 70 gevalle wêreldwyd aangemeld is, en wat die ouditiewe en neorologiese stelsels in die liggaam aantas.

Met Divan se fisiese agteruitgang en die vervorming van sy postuur, het hy ‘n rolstoel wat by sy unieke liggaamsbou sal pas, dringend nodig om vir hom verligting vir sy chroniese pyn te gee.

Wat is Mohr Tranebjearg-sindroom?

Mense met die siektetoestand ervaar progressiewe gehoorverlies gevolg deur neurologiese simptome soos probleme met balans, koördinasie en spraak.

Voordat Divan uiteindelik met Mohr Tranebjearg gediagnoseer is, was daar meer vrae as antwoorde oor wat die oorsaak van die simptome kon wees. Eindelose toetse is gedoen, terwyl sy ma, Juanita, moes toekyk hoe haar pragtige babaseuntjie by die dag al meer simptome getoon het wat dokters laat kopkrap het.

Op die ouderdom van agt maande het Divan se sig begin verswak, en moes hy op eenjarige-ouderdom begin bril dra. Vandat hy drie jaar oud was, moes hy ook begin staatmaak op ‘n gehoorapparaat.

Mettertyd kon Divan nie meer sonder hulp loop nie, en kon hy net met ‘n rolstoel oor die weg kom.

Die byna ondenkbare moes gedoen word – om vrede te maak dat daar medies gesproke nie ‘n kans op genesing vir Divan is nie. Al wat gedoen kon word, was om Divan so gemaklik en pynvry moontlik te hou.

In die jare wat hierna gevolg het, het Divan se uitdagings net groter geword.

In 2016 moes hy ‘n rugoperasie ondergaan om skade te herstel as gevolg van skoliose en kifose wat die funksionering van sy longe, hart en niere nadelig geraak het. Daarna het sy eerste heupvervanging gevolg. Onlangs moes hy geopereer word aan sy been en voet. ‘n Operasie met enorme mediese rekeninge.

Maar ten spyte van sy agteruitgang het hy reeds die mediese lewensverwagting vir sy siektetoestand oortref, en kon die uitdagings waarmee hy moet saamleef, nie sy glimlag steel nie. Met Divan se fisiese agteruitgang en die vervorming van sy postuur, is die grootste en dringende behoefte op die oomblik egter ‘n nuwe rolstoel. ‘n Rolstoel wat by sy unieke liggaamsbou pas en verligting kan bied vir sy chroniese pyn. ‘n Rolstoel waarmee hy weer gemaklik sal kan rondbeweeg met sy Yorkie, Katryn, aan sy sy.

Die rolstoel wat Divan nodig het, kos R72 919. Tot dusver is R8 462,71 ingesamel. As jy ‘n bydrae wil maak vir Divan se rolstoel, kan jy die BackaBuddy fondsinsameling vir Divan ondersteun by https://www.backabuddy.co.za/champion/project/divan-groenewald-5557247191813460448,

Mense wat Divan wil help, kan ook sy ma, Juanita, skakel by 078 019 4084 vir meer inligting oor die BackaBuddy insameling.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button