Local news

Dubbellaagtoiletpapier bly

Waarskuwing oor verwagte splinters in die “nuwe enkellaagtoiletpapier” suiwer bollie. 

 

Sit gemaklik terug op jul trone en ontspan daardie kuite… Ons land se dubbellaagtoiletpapier gaan nêrens nie!
Parys Gazette se susterskoerant, Vaalweekblad se gekkedagberig wat op 1 April geplaas is, onder die opskrif, Waarskuwing: Pas op vir splinters in nuwe toiletpapier!, het lesers oor die naweek behoorlik aan die gons gehad.

Maar soos baie lesers geraai het, was die waarskuwing oor verwagte splinters in die “nuwe enkellaagtoiletpapier” suiwer bollie.
Wetgewing oor toiletpapier het nie verander nie en die organisasies sowel as die woordvoerders wat in die berig aangehaal is, is almal fiktiefbehalwe vir prof. Theo Venter wat met sy lekker humorsin, goedgunstiglik ingestem het om deel van die grapberig te wees.

Vaalweekblad het na die berig prof. Venter bedank vir sy pittige kommentaar waarmee hy ekstra geloofwaardigheid aan die berig gegee het en geskryf: “Baie dankie ook aan die duisende lesers wat die berig gedeel het – of julle dit nou geglo het of nie. Ons het jul gepaste (en soms onvanpaste) kommentaar vreeslik geniet!
Volgende jaar maak ons weer so…”

Baie dankie aan prof. Theo Venter van die Universiteit van Johannesburg, wat ingestem het om aan Vaalweekblad se Gekkedagberig deel te neem en meegehelp het om ons lesers om die bos te lei!

In ‘n uittreksel uit die berig onder die opskrif, “Totsiens dubbellaag, hallo skuurpapier in die kleinhuisie…”, word onder meer geskryf:

Waardeer vir oulaas jou fluweelsagte dubbellaag-toiletpapier as jy op die troon in jou kleinkamertjie sit want dit gaan binnekort net so skaars soos tydens die inperking wees. Die enigste verskil is dat dit hierdie keer nie na die winkelrakke gaan terugkeer nie.

Die Liga van Toiletpapiervervaardigers het gister skok uitgespreek oor omstrede veranderinge aan die Trade Metrology Act van 1973, wat bepaal dat die hoeveelheid toiletpapier wat per jaar deur vervaardigers geproduseer mag word, met die helfte gesny word. Dit sal na verwagting binnekort tot ‘n kritieke tekort aan toiletpapier lei. Boonop mag slegs enkellaagtoiletpapier voortaan vervaardig en verkoop word, tensy ‘n vervaardiger ‘n spesiale lisensie bekom om ‘n beperkte hoeveelheid dubbellaagrolle op regeringsbestelling te mag lewer, soos byvoorbeeld vir hooggeplaaste besoekers uit die buiteland.

Die veranderde wetgewing is gister in die Staatskoerant gepubliseer en bepaal voorts dat toiletpapier voortaan nie meer van verfynde pulp gemaak mag word nie maar van rou pulp wat hoofsaaklik uit growwer houtsaagsels, houtbas en bamboes bestaan. Die nuwe wetgewing, waarvoor die Department van Water & Sanitasie al jare lank voorbrand maak, stem ooreen met wêreldwye neigings om na omgewingsvriendeliker vervaardiginsprosesse oor te skakel.

Jy kan die volledige berig by die skakel hieronder lees.

En wat was die bekende politieke ontleder en beleidspesialis, prof. Theo Venter van die Universiteit van Johannesburg, se gevatte kommentaar in die berig:  “Ons is terug by die mieliestronk… dit gaan baie vir landbou beteken en krag spaar want dubbellaagtoiletpapier is baie energie-intensief.”

1 April se toiletpapierstorie: Het jy dit geglo?

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button