Local news

Oud-Patrys ‘rock’ in die Teatro

"My sangdroom is geanker op kunswedstrydverhoë."

Danelle Cronje, oudleerder van Hoërskool Parys, vertolk een van die hoofrolle as die karakter Oz, in die New Vision wêreldtoer produksie, We will rock you. Die bekroonde musiekblyspel van Ben Elton, met musiek van Queen, het ‘n volledige Suid-Afrikaanse rolverdeling, orkes en produksiespan.

Die openingsvertoning was in Oktober 2022 in Manilla in die Fillippyne. Nadat daar in Asië getoer is, is dié produksie Vrydag, 10 Maart die eerste keer voor ‘n Suid-Afrikaanse gehoor in die Teatro by Monte Casino opgevoer waar dit steeds wys. In April skuif die produksie van Monte Casiono na die ArtsCape Opera House in Kaapstad, en daarna na Israel.

Foto: Christiaan Kotze.

Kleintyd al wou Danelle net sing, en vandag is dit presies wat dié talentvolle oud-Parys skolier, Danelle Cronje doen.
Danelle het na matriek musiekteater aan die Oakfields College in Pretoria studeer.

Sy was pas klaar met haar studie toe sy ingesluit is in die ensemble vir die Afrikaanse Pantonime, Doringrosie.

Danelle het toe in Maleisië gaan sing as een van net twee Suid- Afrikaners in die sanggroep van 20th Century Fox & Genting World Theme Park se Workshop Group. Danksy haar liefde vir reis het sy later ‘n kontrak op die Duitse TUI Cruises se Mein Schiff passsasierskepe aanvaar waar sy agt maande lank gesing het, en die kans gehad het om ook dele van die wêreld te sien wat jy nie andersins sou sien nie, vertel sy.

Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy die rol van Baby Cangaroe in Seussical vertolk wat deur &CO by die Lyric Theatre in Golf Reef City opgevoer is, en is sy ook in ander produksies gehoor.

Maar toe roep Covid halt vir die bedryf. Vir Danelle was dit asemskep-tyd by haar ouers, Danie en Trudie Cronje, wat steeds haar grootste ondersteuners is, naas haar destydse musiekonderwyseres, juffrou Marli Kruger, en haar kindertyd dans- instruktrise, Elrine Kotze. “Dit is hulle wat my laat besef het dat ek my droom om te sing kon najaag,” vertel ‘n borrelende Danelle.

Dan vertel sy van die Bus of Hope ervaring wat sy saam met ander sangers in Covid aangepak het om vir essensiële werkers by hospitale te gaan sing, Die onbeskryflike hoop wat dit vir mense gebring het, sal my altyd bybly, sê sy.

Hoewel We will rock you al in 2019 op haar pad gekom het na ‘n video- oudisie, het Covid telkens veroorsaak dat die vertonings aangeskuif moes word, maar die vervaardigers het vas gestaan – uitstel, beslis nie afstel nie.

Foto: Christiaan Kotze.

So het die dag uiteindelik aangebreek dat die groep van 27 wat almal Suid-Afrikaners is, in 2022 vir vyf weke in die Kaap kon repeteer, vir die Brits en Suid-Afrikaans vervaardigde produksie – die eerste groot toerende produksie na Covid wat jou asem sal wegslaan.

Related Articles

Back to top button