Local news

Epilepsie-sentrum se Gary sterf

Hy was soos 'n pa vir hierdie sentrum se inwoners

Gary Westwood, streekdirekteur van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Parys, is  Donderdag 30 Maart in die ouderdom van 61 jaar oorlede. Hy was Donderdagoggend nog  by die werk maar is kort daarna met asemnood per ambulans na die hospitaal vervoer waar hy gesterf het.

Gary het in 2011 ‘n tweede kans op lewe gekry het toe sy lewe ingrypend verander is danksy ‘n stamseloorplanting van ‘n anonieme skenker nadat hy in Desember 2007 in ‘n dokter se spreekkamer met die verpletterende vermoede van kanker gekonfronteer is. Dit nadat hy dokter toe is oor kneusmerke wat hy op sy vel opgemerk het, en uitermate moegheid.

Die dokter het Gary se simptome herken as dié waarmee sy skoonpa geworstel het. ‘n Baie seldsame vorm van bloedkanker bekend as Myelofibrosis (MF). Die stil vyand veroorsaak dat jou stamselle pleks van bloed vervaardig, weefselmerke in jou beenmurg vorm. ’n Toestand wat net 1 uit 500 000 mense raak. Die enigste genesing is ’n stamsel oorplanting – daarsonder sterf pasiënte, want medikasie kan slegs die siekte se vernietigende pad vertraag.

Na die eerste doktersbesoek het spesialiste die vermoede bevestig, maar terwyl daar gewoonlik ’n goeie kans is om ’n geskikte skenker in jou familie te kry, was dit nie in Gary se geval so nie.

As enkelouer met sy dogtertjie, Tegan toe maar 5 jaar oud, was Gary se hoop in daardie stadium maar skraal om haar te sien grootword. Die siekte het progressief vererger tussen 2008 en 2011. En toe kom daar ’n antwoord – ’n 10/10 ooreenstemming met sy eie stamselle wat vroeg in 2011 gekry is van ’n Suid-Afrikaanse vrou wie haarself as stamselskenker geregistreer het.
Danksy die skenking het Gary 12 genade jare by sy lewe gekry. Jare waarin hy Tegan kon sien grootword, en sy kleinkinders, Joshua en Liam, kon vashou.

Gary was vir baie jare streekdirekteur van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum. Maar hy was meer as dit. Hy was vir baie van dié sentrum se inwoners soos ‘n pa. Iemand wat werklik ‘n passie gehad het vir die sentrum en met ywer en geesdrif gewerk het om fondse vir die sentrum in te samel. Selfs in moeilike ekonomiese tye en deur Covid, het Gary nooit ophou planne maak om die sentrum se deure te help oophou nie.

‘n Man wat maklik kon lag, en net so maklik kon gee sonder om terug te verwag. ‘n Dierbare vriend en kollega wat altyd tyd gemaak het vir ander.

Hy was altyd bereid om hulp te verleen in die gemeenskap, altyd betrokke, en altyd iemand op wie jy kon staatmaak. Daarvan het sy betrokkenheid by vele projekte asook die Tokoloho Foundation en Tumahole Selfhelp Association for the Disabled onder meer getuig. Ook in die sakegemeenskap waarmee hy nou geskakel het, laat Gary se skiellike dood ‘n groot leemte.

Hy word oorleef deur sy dogters, Tegan en Mandy, en seun, Darren, asook sy kleinkinders.

 

Related Articles

Back to top button