Local news

Opposisie sê nee, maar ANC druk besluit oor MM deur

Die Ngwathe munisipaliteit is in 'n bestuurskrisis met vier van sy top bestuurs-poste wat nou vakant is.

Tydens ‘n dringende spesiale raadsvergadering Woensdag, 22 Maart, is besluit dat Florence Mokgobu, Ngwathe se uittredende direkteur van korporatiewe dienste, tot Vrydag 31 Maart in die pos as munisipale bestuurder sal waarneem.
Dit volg na die skielike en onverwagse bedanking van die vorige munisipale bestuurder, Nonhlanhla Baleni. Persoonlike redes word voorgehou as die rede vir Baleni se vinnige bedanking.
Ten spyte van die Vryheidsfront Plus se teenkanting teen dié besluit omdat dit as onreëlmatig beskou word, het die ANC meerderheid dit deurgedruk. So ook ‘n besluit dat die Vrystaatse provinsiale regering gevra sal word om dringend iemand te sekondeer om as waarnemende munisipale bestuurder op te tree tot die pos volgens die normale prosedures gevul kan word.
Die raad het by die vergadering ook besluit dat mnr. Zanele Majivolo, Ngwathe se ondersteunende administratiewe bestuurder, tydelik vir ‘n tydperk van nie langer as drie maande as direkteur korporatiewe dienste sal waarneem totdat iemand in die pos aangestel is.
Die DA het uit protes nie die vergadering bygewoon nie.
Gazette het verlede week berig oor die krisis waarin die Ngwathe munisipaliteit hom bevind met vier van sy top bestuurs- poste wat nou vakant is. Die poste van munisipale bestuurder, direkteur korporatiewe dienste, hoof finansiële beampte en direkteur gemeenskapsdienste is vakant.
Die muninsipale bestuurder, Nonhlanhla Baleni was ‘n skamele vyf maande in haar pos nadat die vorige munisipale bestuurder, Bruce Kannemeyer, se kontraktermyn na verstryking daarvan, nie hernu is nie. Tans neem ‘n derde persoon reeds waar in die hoof finansiële beampte se pos. Boonop sê Vryheidsfront Plus raadslid Phillip Van der Merwe, is daar nie sittings van belangrike komitees vir byvoorbeeld infrastruktuur wat oor water, riool en kragvoorsiening toesig moet hou nie, ten spyte van herhaalde versoeke en selfs ‘dreigemente’ dat die sittings gehou moet word. Van der Merwe sê raadslede kry gevolglik geen amptelike geleentheid om probleme aan te spreek, of om daarop aan te dring dat aandag daaraan gegee word nie.
Klagtes van pligsversuim wat hy teen die direkteur van tegniese dienste, mnr. Malunga, aanhanging gemaak het, word ook nie verder gevoer nie, sê raadslid van der Merwe. Hy het aangedui dat hy op parlementêre vlak gaan vra dat ministers van Cogta (die plaaslike regering) en water en sanitasie, ingryp.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button