Local news

So ‘n span osse kan vir jou moeilik wees!

Die wawiele rol weer na disselboom-skade

Ossewa-trek vat ‘n man op ‘n perd selfs in hedendaagse tye. Hiervan kan die groep van by die 30 mense getuig wat Sondag 26 Maart  die 40km avontuur oor 7dae oor Ottosdal se vlaktes aangepak het.

Sommer vroegdag Maandag op die eerste trekdag, het dit Job se geduld gevra met die inspan van die osse voor die waens, met een groep osse wat net wou hardloop.

So breek die osse toe ook een van die waens se disselbome wat  eers herstel moes word voordat daar verder getrek kon word.

Maar niks kon die groep avonturiers se entoesiasme demp nie. Gisteraand is kamp opgeslaan langs die plek waar Siener van Rensburg begrawe is, en is gaan kyk na dié graf.

Na die dag se opwinding met die osse is kos om die kampvuur gemaak, en die kinders gewys hoe Volkspele gedoen word. Daar sal een aand oorgestaan word by die kampplek.

‘n Week propvol kultuur-aksie lê nog voor met die unieke Ossewa-trek wat vanjaar  deur die Trekboer vereniging in samewerking met die FAK, en die steun van borge aangebied word.

Die waens trek elke dag sowat 6-8 kilometer. Soggens om 06:00 word daar ingespan en teen ongeveer 12:00 weer uitgespan – oorgenoeg tyd vir rus, saamkuier en kosmaak.

 

‘n Week waar terug gestap word in die verlede. En so saam met die daaglikse trekkery wat Sondag 2 April ten einde loop, is daar heelwat aktiwiteite waaronder voorlaaier demonstrasies en heerlike samesyn en musiek om die kampvuur – met les bes ‘n melktert of twee.

Related Articles

Back to top button