Local news

Ngwathe se bestuur in ‘n krisis

Munisipale bestuurder se pos weer vakant

Waar is die Ngwathe munisipale bestuurder?

Dit is die vraag wat verlede week uit verskeie oorde gevra is na gerugte van haar bedanking.

Die munisipaliteit het  navrae oor die gerugte  met totale swye beantwoord, en hoewel sommige raadslede die gerugte beaam het, was die meeste ook in die duister hieroor.

Maar uiteindelik is die bevestiging daar. ‘n Dringende spesiale raadsvergadering word vanmiddag, Woensdag 22 Maart om 15:00 gehou waar die aanstel van ‘n waarnemende munisipale bestuurder bespreek sal word.  Punte op die agenda vir bespreking is ook die bedanking van die munisipale bestuurder, en die bedanking van die munisipaliteit se direkteur korporatiewe dienste.

Maar die poste van munisipale bestuurder en direkteur korporatiewe dienste is nie die enigste senior bestuursposte wat gevul moet word nie. Ook die pos van die hoof finansiële beampte en direkteur gemeenskapsdienste is nog vakant wat baie negatief op munisipale bestuur reflekteer, sê die Vryheidsfront Plus se rdl. Phillip van der Merwe.

Die muninsipale bestuurder, Nonhlanhla Baleni was maar ‘n skamele vyf maande in haar pos nadat die vorige munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer se kontraktermyn as munisipale bestuurder verstryk het, en sy aangestel is.

Tans neem ‘n derde persoon alreeds waar in die hoof finansiële beampte se pos.

Boonop sê rdl. Van der Merwe, is daar nie sittings van belangrike komitees vir byvoorbeeld infrastruktuur wat oor water, riool en kragvoorsiening toesig moet hou nie, ten spyte van herhaalde versoeke en selfs ‘dreigemente’ dat die sittings gehou moet word. Van der Merwe sê raadslede kry gevolglik geen amptelike geleentheid om probleme aan te spreek, of om daarop aan te dring dat aandag daaraan gegee word nie.

Klagtes van pligsversuim wat hy teen die direkteur van tegniese dienste, mnr. Malunga, aanhanging gemaak het, word ook nie verder gevoer nie, sê rdl. Van der Merwe. Hy het gesê dat hy nou op parlementêre vlak gaan probeer vra dat ministers van Cogta (die plaaslike regering) en water en sanitasie, ingryp.

By navraag oor waarom media navrae nie beantwoord word nie, is Gazette meegedeel dat daar tans in die afwesigheid van die munisipale bestuurder niemand is wat die outoriteit het om verklarings van die munisipaliteit te kan magtig nie, en is melding ook gemaak van vanmiddag se spesiale dringende raadsvergadering.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button