Local news

‘Ek was histeries’, sê boervrou na skote op bakkie

Die gebeure van 7 Maart het vir Martie Enslin van digby Vredefort getraumatiseerd gelaat. Sy vertel oor dié dag se gebeure.

Twee weke nadat daar uit die bloute op die R59 net buite Vredefort op haar en haar werkers geskiet is, sukkel Martie Enslin, ‘n boervrou van die Vredefort-distrik, steeds om die traumatiese voorval te verwerk.

“Ek is ‘n sterk vrou, maar hierdie vang my,” vertel sy.
Die 67-jarige Martie was op 7 Maart om 18:00 die aand oudergewoonte met haar huishulp Aletta Mofokeng, asook Aletta se man, Jeremia, en nog ‘n werker, Frans, na die Mokwallo-woonbuurt by Vredefort op pad om hulle huis toe te neem. Die Enslins boer sowat 27km buite Vredefort. Aletta het aan die passasierskant van die Hilux Legend verlengde kajuitbakkie gesit, met Jeremia en Frans agterop die bakkie.

Dit het kwaai gereën, onthou Martie. Soos sy nader beweeg het aan Vredefort, het sy voertuie weerskante van die pad gesien. Haar eerste gedagte was dat daar moontlik ‘n ongeluk was, en het stadiger gery. Daar was ook ‘n vragmotor met sy noodligte aan in haar ryvlak. Aan haar regterkant was daar vier mense langs die pad en dit het gelyk of een van hulle oor die pad wou beweeg soos sy by die vragmotor wou verbygaan.

“Ek het nog my ligte geflts om hom te waarsku, juis omdat dit so swaar gereën het.” Die mans het balaklawas en koeëlvaste baadjies gedra, sê sy. Sy het ook opgemerk dat hulle gewapen was.
Daar was geen polisiebord, ligte of enige aanduiding dat sy moes stilhou nie, en nie een van die mans het ‘n polisie-uniform gedra nie, vertel Martie. Toe sy by die vragmotor verby is en weer na haar baan terugbeweeg het, het sy nog voertuie en drie mense aan die linkerkant van die pad gesien. “Hulle het my in die oë gekyk. Ek kon sien hulle is ook gewapen.”

Die volgende oomblik het die skote skuins agter die bakkie geklap. “Minstens vyf skote. Toe skree Aletta: ‘Mme hulle het my raakgeskiet.'”

“Ek het eers gedink dit kan nie wees nie, maar toe sy oorlê na my kant het ek gevrees dat sy dalk in die bors gewond is.”
In die angsoomblikke daarna het Aletta vir Martie gesê dat sy in die been gewond is.

“Ek het gesien Jeremia lê ook oor na Frans se kant van die bakkie. Op daardie stadium het ek gedink dit is ‘n kaping.”

‘n Erg getraumatiseerde Martie het na die Vredefort Polisiestasie gejaag om vir Aletta hulp te kry, maar nog was die nagmerrie nie verby nie.
Met ongekende vrees het sy gesien hoe voertuie kort na haar by die polisiestasie stilhou. Sy het die mans herken as dié wat oomblikke tevore met die klapmusse en wapens langs die pad gestaan het. “Ek het dadelik gedink hulle het kom klaarmaak wat langs die pad gebeur het. Ek was histeries.”

By die polisiestasie het sy gehoor dat ‘n Toyota dubbelkajuitbakkie, glo soortgelyk aan hare, gekaap is en dat daar oënskynlik vroeër na die voertuig gesoek is.

Lede van die Vredefort Polisiestasie het haar en haar werkers bygestaan en het sy benadruk dat diegene wat op haar geskiet het beslis nie lede is van die Vredefort Polisiestasie of naburige polisiestasies nie.
Aletta is aanvanklik in die Parys Hospitaal opgeneem vir behandeling waarna sy na ‘n hospitaal in Kroonstad oorgeplaas is.

* Gazette kon nie ‘n verklaring van die polisie oor die voorval kry nie, behalwe dat polisiewoordvoerder, Sersant Josephine Rani aangedui het dat die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat die ondersoek hanteer. Naas Aletta, is niemand anders in die voorval beseer nie.

Related Articles

Back to top button