Local news

Toe die water kom, was dit soos ‘n dief in die nag

Vir die toerismebedryf van Parys is die skade in geheel enorm, nie net aan herstelwerk nie, maar ook aan besprekings wat verloor word terwyl skade herstel word.

Vir Henning Vosloo en sy gesin van Vosrite Fishing Adventures was die droom van ‘n visvangoord aan die oewer van die Vaalrivier in die hart van die Vredefort Koepel met sy besondere natuurskoon, ‘n droom waaraan jare lank gebou is. ‘n Droom wat in 1989 begin het toe sy pa, Michael, die plaas Hoenderland saam met ‘n paar aandeelhouers gekoop het
Oor die jare is fasiliteite op die grond opgerig waar die onderskeie aandeelhouers se families oor naweke kon uitspan, en vroeg in 2000, is begin om kampstaanplekke in te rig en ‘n drie verdieping hout lodge gebou.
Toe Henning sy werk in 2011 in Rustenburg verloor het, en begin het met aanlyn besprekings vir die oord, het dit gegroei in gewildheid by mense wat hier wou kom lyn natmaak in die Koepel se natuurprag.

Die afgelope jare het Henning die Vaalrivier verskeie kere sy walle hier sien oorstroom. Soos ook in 2011 toe die vloedwater drie dae lank in die lodge se onderste vlak ingetrek het. Toe weer in 2022. Elke keer is skoongemaak en reggemaak.
Maar 19 Februarie vanjaar was ‘n ander gesig. Dié keer het die water tot by die derde vlak van die lodge opgestoot. In ‘n kwessie van ure was alles onder water.

Henning en sy seun by die Vosrite Fishing Adventures lodge wat in die water gestaan het nadat die Vaalrivier in Februarie vanjaar, die hoogste nog sedert die vloed van 1975, gestyg het.

Nie eens die meubels wat hulle nog betyds van die onderste vlak na die boonste vlak van die lodge kon dra, kon gered word nie. Vir bykans twee weke was die lodge onder water, en het die struktuur geskuif op die fondasie.
Eers was dit Covid-inperking in 2020, toe die vloede einde 2021/22 en nou weer – hoe oorleef ‘n oord dié verliese?
Desember 2022 toe die Vaal se water gestyg het, het mense nog by van die kampies in die water gesit en visvang, sê Henning. Nou was dit weke waarin geen besprekings gemaak kon word nie. Geen beplanning wat gedoen kon word nie, want die water moes eers sak.
“Ons sal die lodge moet afbreek en kapitaal om dit oor te bou is daar nie, sê hy. Hoewel sy eerste gedagte was om die oord te sluit, het mense wat gereeld die oord besoek, dadelik hulp aangebied, en is ‘n hulpfonds gestig.
“Ons gaan ander planne maak. Die kleiner kampe skoonmaak en herstel, en dan sal gewerk word aan ander idees – dalk tentkampe,” sê hy, dankbaar vir die hulp wat gekry is.
Maar een ding is seker, dit gaan tyd neem om die skade van hierdie vloed reg te maak. Soos ander oordeienaars aan die Vaalrivier, krap dit aan sy gemoed as hy vertel van die teenstrydige berigte daardie naweek van 19 Februarie, oor hoeveel water vrygelaat sou word by die Barrage. Die angsure van wag om te sien hoeveel die water sou styg. En toe dit kom was dit soos ‘n dief in die nag wat alles saamgevat het wat in sy pad gekom het. Die lodge was op die 50 jaar vloedlyn gebou, en die kampe onder die vloedlyn, sê Henning, maar dit is ‘n hengeloord. “Mense wil by die water wees. Dit is wat die oord gewild maak. Ons gaan regmaak, al vat dit tyd.”
* Vir die toerismebedryf van Parys is die skade in geheel enorm, nie net aan herstelwerk nie, maar ook aan besprekings wat verloor word terwyl skade herstel word. Die meeste van die oordeienaars met wie die Gazette gesels het, het gesê dat daar steeds hard gewerk word om skade te herstel, meubels te vervang, en skoon te maak.

Related Articles

Back to top button