Local news

Breinaalde wikkel vir die Oekraïne se kinders

Die gedagte vir die projek het begin by Saret Boshoff van Upington. Die ATKV-tak van Rooiduin in Upington het by haar aangesluit, en so ook ander takke genooi om deel te neem aan die beertjie-projek.

Die ATKV Vredefort Koepel-tak neem deel aan ‘n landwye projek van die organisasie waarmee uitgereik word na kinders en bejaardes van die oorlogeteisterde Oekraïne.
Die breinaalde het alreeds fluks gewikkel en is by die 50 klein teddiebeertjies kant en klaar gebrei danksy inwoners van Parys en Vredefort.
Volgens Erna Rademan van Vredefort Koepel ATKV, sal die helfte van die beertjies wat vir die projek ontvang word, opgeveil en verkoop word, om dit moontlik te maak om ‘n span vrywilligers na die Oekraniïne te stuur om te help met die berading van veral kinders en bejaardes daar. Hierdie span help ook om van die bejaardes en kinders na veiligheidsgebiede te bring.
Dan word daar ook beplan om toerusting, koeëlvaste baadjies en berskermende valhelms vir die vrywilligers te koop wat uitreik tna die mense van die Oekraïne.
Die oorblywende teddiebeertjies sal deur die vrywilligers saamgeneem word na die Oekraniïe om daar vir die kinders te gee.
Die gedagte vir die projek het begin by Saret Boshoff van Upington. Die ATKV-tak van Rooiduin in Upington het by haar aangesluit, en so ook ander takke genooi om deel te neem aan die beertjie-projek.
Dalk wil jy help brei, of het wol of breinaalde wat jy vir die projek wil skenk – dan kan jy jou skenking by Boerefort in Vredefort, of by National Roadhouse in Parys afgee. Gesels gerus ook met Sanmari Vorster by Die Wolhoekie in Kerkstraat oor die projek. By haar sal jy die patroon vir die beertjies kry, en kan jy ook hier kom wol afgee, of wol wat geskenk is vir die projek kom haal om te help brei.

Onthou oorskiet wol word ook verwelkom vir die projek. Daar word veral gesoek na Charity Double Knit wol en wateersel om die beertjies te stop.
As jy nie graag brei nie, maar kan hekel, kan jy ook gehekelde beertjies maak.
Die Wolhoekie het alreeds ‘n groot bydare gemaak tot die projek, en jou hande of bydrae kan net so ‘n groot verskil maak.
Projekleier Arnold Schoonwinkel en lede van die ATKV Vredefort Koepel, sê dankie aan elkeen wat alreeds hul harte oopgemaak het vir die projek. Hy sê hul mikpunt is meer as 300 beertjies teen einde Mei.


Van die ATKV Vredefort Koepel lede met die sowat 50 beertjies wat alreeds gebrei is. Heel links en regs agter is Wilma en Sanmari van Die Wolhoekie, met Corlia,  en Arnold Schoonwinkel (projekleier) in die middel.

Wie is die ATKV Vredefort Koepel?
In 2019 het ’n groepie liefhebbers van Afrikaans en kultuur ’n plaaslike ATKV-tak gestig. Die taknaam toe heel gepas – ATKV Vredefort Koepel, maar is die tak oorkoepelend werksaam in beide Parys en Vredefort.
Die tak hou gereeld Afrikaanse Volksliedere saamsing oggende met baie pret en lekker noot-vir-noot uitdagings. Hierbenewens is die ATKV ook betrokke by die uitsonderlike Deo Gloria Kersuitvoerings en die onlangse konsert van die internasionaal bekende orrelis, Minne Veldman in Vredefort.
Die ATKV dra ook ruim by tot armoedeverligting in ons gemeenskappe en is plaaslik betrokke by sopkombuise en hulp met kospakkies vir hulle in nood waarvoor ‘n groot finansiële bydrae gemaak word.
Kyk ook uit vir die Herfs-skryfwerkswinkel saam met Carla van der Spuy, gesoute joernalis en skrywer van nege boeke, talle artikels, kortverhale en rubrieke wat op 22 April hier deur die ATKV Vredefort Koepel aangebied word. Carla se jongste pennevrug, Gangster, sal na afloop van die skryfwerkswinkel, bekendgestel word.
Raak betrokke by hierdie dinamiese groep mense wat woeker in hul gemeenskappe om die taal en kultuur lewendig te hou. Vir navrae skakel Corlia Kruger by 082 732 0257 of stuur e-pos na corliwent@gmail.com

Related Articles

Back to top button