Local news

Daar’s nog gate op dié pad

Wees baie versigtig as jy hier ry

Hoewel die departement van polisie, paaie en vervoer van die slaggate op die R59 tussen Parys en Sasolburg herstel het, is daar steeds gevaarlike slaggate op hierdie pad, en moet motoriste baie versigtig wees, veral saans en in reënweer wanneer sig sleg is.
Die departement se hoof paaie superintendent in die Fezile Dabi-streek, mnr. James Nkabinde, het verlede week bevestig dat werk wat tans aan die S154 Weiveld-pad gedoen word, wel teen einde Maart voltooi behoort te wees wanneer die kontrak van R6 miljoen wat toegeken was, eindig.
Nkabinde het gesê die kontrakteur het aan van die slegste gedeeltes van die pad vanaf Hinterland tot by die Weiveld Landbou- en Hotelskool gewerk.
Stormwaterdreineringspype kon danksy ‘n bydrae van die Weiveld Boerevereniging ingesit word op gedeeltes van die pad om te help met dreinering, en is die gruiswerk nou voltooi. Gazette het vroeër berig dat die Weiveld Landbou- en Hotelskool se meer as 500 leerders aan die einde van 2022 hul eindeksamen in lokale in Parys en Sasolburg moes aflê omdat die pad na die skool onbegaanbaar geword het vir skoolbusse wat die kinders na en van die skool vervoer.
Die toestand van die pad is vererger deur swaar reën wat die busse in die modder laat vassit het. Die busse kan egter nou weer die pad gebruik, het Nkabinde gesê.

Related Articles

Back to top button