Local news

Sprankelende student en oud-Liggie nou by voete van Jesus

Talle huldeblyke is op sosiale media gedeel na die skokkende nuus van Keyser se skielike afsterwe.

‘n Vierdejaar onderwysstudent aan die NWU Potchefstroomkampus, Mikyla Keyser (21), is in ‘n fratsongeluk, Sondagoggend, 5 Maart oorlede toe sy besig was om by haar ouerhuis in Coligny klere te stryk.

Keyser het vermoedelik die strykyster se kragprop uitgetrek en in die proses aan lewendige drade gevat. Dit is nog onseker of haar dood weens die elektriese skok is of omdat sy teen die grond geval het en ‘n breinstambesering opgedoen het.

Mikyla Keyser (21) ‘n vierdejaar onderwysstudent aan die NWU Potchefstroomkampus is in ‘n fratsongeluk by haar ouerhuis in Coligny oorlede. Foto: Facebook.

Netwerk24 berig dat Keyser by haar familie gekuier het toe die ongeluk plaasgevind het en dat sy kort na haar aankoms by Klerksdorp Hopitaal oorlede is.

Talle huldeblyke is op sosiale media gedeel na die skokkende nuus van Keyser, ‘n voormalige Hoërskool Lichtenburg-matrikulant (2019), se skielike afsterwe. Sy word veral onthou as ‘n sprankelende mens wat goeie leierskap en kommunikasie-vaardighede gehad het.

Haar alma mater, Hoërskool Lichtenburg, het medelye betoon en genoem dat hulle die Keyser-gesin aan God in hierdie hartseer tyd opdra.

“Sy het ‘n passie vir mense gehad en wou graag ‘n verskil maak daar waar sy gaan en mense na die Here lei. Sy het ook idees gehad vir ‘n meestergraadstudie waar sy depressie onder tienerdogters wou ondersoek,” noem Sidney Fuller, ‘n familievriend.

Fuller deel ook verder dat sy nie daarvan gehou het dat mense swaarkry nie en mense se lewens wou verbeter.

“Sy het ‘n nou pad saam met die Here gestap en ‘n diep verhouding met Hom gehad. Sy wou mense na die Here lei en nie net bid vir hulle nie, maar saam met hulle die pad stap. Sy het ‘n rustigheid in haar gehad,” noem Fuller.

“Jy is nou by die voete van Jesus, dit was n voorreg gewees om jou te sien groot word en aan die brand te wees vir die Koninkryk van God. Jesus was jou passie en jou liefde

Jy het baie harte aangeraak met jou aansteeklike glimlag.

Jy sal vir altyd onthou word mooiste mens,” noem Rouvain du Preez op haar Facebook blad.

Leanne Joubert vertel in ‘n roerende boodskap dat sy stukkend is en dat sy groot leemtes laat.

“Eks woordeloos. Een ding is verseker die Here kom haal sy engletjies voor hy ons almal kom haal. Jy was definitief een van Liewe Jesus se favorite mensies. Miks, dis net so vroeg en te gou en weereens laat jy my wakker ruk en besef ons is net vir n kort rukkie geleen, die aarde is nie vir ewig nie, maar tydlik ons moet ons lewens regkry vir die Here. Dankie dat ek deel was van jou lewe vir so ‘n kort rukkie maar jy was altyd net so ‘n spontane jong dame met een pragtige persoonlikheid. Jy laat groot leemtes maar pragtige herinneringe. Rus saggies jou pragtige mens. My hart is stukkend.”

 Daar is ook by Maandagaand se Varsitybekerwedstryd tussen die NWU en Maties op die Fanie du Toit Sportgronde, ‘n oomblik van stilte vir Keyser gehou.

Mikyla Keyser was ‘n sprankelende persoon wat geliefd was onder haar vriende en koshuismaats.

Keyser was ‘n lid van Wanda Dameskoshuis en het ook voorheen op die Huiskommitee (HK) gedien. Sy was ten tyde van haar dood nog baie betrokke by studente-aktiwiteite en geliefd onder haar mede koshuismaats en vriende.

Mikyla Keyser het verlede jaar ook op Wanda Dameskoshuis se HK gedien.

NWU woordvoerder, Louis Jacobs, het bevestig dat daar berading vir studente en koshuispersoneel gereël is. Hy noem ook dat die NWU hul medelye aan die familie betoon in hierdie moeilike tyd.

Keyser word oorleef deur haar ouers, Nico en Marilise, ouer broer Ruan en jonger sussie, Imke.

‘n Gedenkdiens om Keyser se lewe se vier word op Donderdag, 9 Maart om 11:00 by Duet Gemeente plaas.

*Keyser se gesin was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button