Local news

Tate Makgoe: Parys het hom na aan die hart gelê

Sy liefde vir kinders het altyd uitgestaan

Parys het Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, wat vanoggend, Sondag 5 Maart in die vroeë oggendure in ‘n gru-botsing op die N1 naby Winburg gesterf het, baie na aan die hart gelê.

Dit is hier in Tumahole, Parys, waar hy op 12 Mei 1963 gebore is. Hier waar hy in 1996 nog as LUR vir Toerisme en Omgewingsake die destydse Savanna Game Ranch Montesorri Pre-School kom open het, en in sy boodskap benadruk het hoe belangrik dit is om ons kinders te leer. Hier waar sy department in Desember 2022 kersvreugde gebring het vir 250 kleuterskool kinders met ‘n kerspartytjie wat by Sindekile Primary School gehou is.

Hierdie foto’s is in Desember 2022 geneem toe sy departement groot vreugde gebring het vir kleuterskoolkinders met ‘n Kerspartytjie by Sindekile Primary School in Tumahole.

Tate Makgoe was een van die laaste ononderbroke dienende lede van die provinsiale wetgewer in die Vrystaat, en het die provinsie met onderskeiding gedien vanaf 2009 as Vrystaatse LUR vir onderwys. Die provinsie het onder sy leiding weer vanjaar uitgestaan met die beste matriekuitslae in die land vir die 2022 matriekeksamen.

Hy is in 1994 verkies tot die Vrystaatse provinsiale wetgewerse uitvoerende raad as ANC-verteenwoordiger. Van die portefeuljes wat hy naas onderwys beklee het was as LUR van finansies, LUR vir toerisme en omgewingsake, LUR vir landbou en LUR vir openbaare veiligheid, sekuriteit en skakeling.

Hy was ook van 2001 tot 2004 die voorsitter van die wetgewer se voorsitters.

By alles was hy ontsettend lief vir kinders en was onderwys vir die 59-jarige Makgoe baie belangrik. Hyself het groot waarde geheg aan geleerdheid en was  besig met sy doktorsgraad aan die Universiteit van die Vrystaat.

Makgoe was saam met sy lyfwag, a.o Vuyo Mdi en a.o Pule Nkopane, bestuurder van die voertuig wat ook ‘n lyfwag was,  onderweg terug na Bloemfontein nadat hy  ‘n vergadering  in Johannesburg bygewoon het. Die ongeluk het gebeur toe Makgoe se voertuig beeste op die pad getref het.

A.o. Vuyo Mdi is ook in die botsing oorlede, terwyl a.o Nkopane met nie ernstige beserings van die Winburg-hospitaal na die Mediclinic in Bloemfontein oorgeplaas is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button