Local news

Udolpho Rivierplaas ontruim

"Veiligheid van gaste en personeel van die FAK en Udolpho Rivierplaas is topprioriteit."

 

Udolpho Rivierplaas, die FAK se vakansieplaas langs die oewer van die Vaalrivier by Parys, is ontruim weens die stygende vlak van die Vaalrivier en aanhoudende reën.

Volgens Marné Scholtz, woordvoerder van die FAK, is die veiligheid van gaste en personeel van die FAK en Udolpho Rivierplaas topprioriteit.

Scholtz sê bestuurders op Udolpho het die watervlak oor die laaste paar dae dopgehou en is vroeër vandag besluit dat “ons nie die lewens van gaste en personeel   in gevaar wil stel nie.”

Sy sê personeel op Udolpho het gaste by die verskeie punte van veiligheid bymekaar laat kom, en is daar ook in verbinding getree met ander boere in die omgewing om te bepaal of daar ook ondersteuning verleen moet word.

Lede van die FAK se Vaal-Kultuurnetwerk in die Vrystaat het ook ingespring en hand bygesit.

“Op hierdie stadium is die rivier geweldig sterk,” verduidelik Petre Theron, bestuurder van Udolpho Rivierplaas.

“Ons tree tans proaktief op deur ons gaste te waarsku, in verbinding te tree met die nabye gemeenskap en deur sandsakke te pak,” het hy gesê.

Theron het gesê dat hoewel die rivier in vloed is, die situasie onder beheer is en niemand se lewens  in gevaar is by die oord nie.

Hy sê daar word verwag dat die rivier nog ’n verdere 250 mm – 300 mm sal styg.

Daar is tans twaalf sluise van die Vaaldam oop, waarvan twee vandag en vier gister (17 Februarie) oopgemaak is. Met verlede jaar se reën is daar tot en met 8 sluise van die dam oopgemaak. Dit is die eerste keer sedert 2011 wat 12 sluise oopgemaak is.

Related Articles

Back to top button