Local news

Gereformeerde Kerk gaan NWU verlaat

Die GKSA gaan ‘n privaat hoër onderwys instelling genaamd, Die Gereformeerde Teologiese Akademie, oor die komende drie jaar oprig.

Die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (GKSA) het op Saterdag, 4 Februarie tydens die Sinode 2023-sitting besluit om nie ‘n nuwe ooreenkoms met die Noordwes Universiteit (NWU) rakende die Teologiese Skool te onderteken nie.

Praktiese gevolge van hierdie besluit is dat die bestaande ooreenkoms met die NWU rakende die Teologiese Skool oor 3 jaar tot ‘n einde sal kom en dat die GKSA ‘n privaat hoër onderwys instelling genaamd, Die Gereformeerde Teologiese Akademie, sal oprig. Hier sal studente in die toekoms geakkrediteerde teologiese opleiding kan ontvang. Die NWU en GKSA se paaie sal nou na 150 jaar skei.

Die NWU se Fakulteit: Teologie sal steeds soos normaal funksioneer en slegs die program waarin studente van die GKSA inskryf sal oor drie jaar uitgefaseer word.

Die GKSA het in ‘n mediaverklaring genoem dat daar alreeds tydens die Sinode in 2018 verskeie opdragte aan die Kuratore insake teologiese opleiding gegee is, onder andere om voort te gaan met onderhandelinge met die NWU oor die opleiding van studente van die GKSA in die teologie.

“Die kuratore het verskeie konsepte aan die NWU voorgehou maar daar kon nie tot ʼn vergelyk gekom word nie,” lui die verklaring.

Die NWU was reeds ‘n geruime tyd in gesprek met die Dagbestuur van die Kuratore van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) oor die formele verhouding tussen die partye vir die opleiding van predikante van die GKSA en vir die insluiting van personeellede in die universiteit personeelkomponent wat sogenaamde kerklike professore is.

Louis Jacobs, NWU woordvoerder, noem dat besprekings voortgespruit het uit die feit dat die laaste ooreenkoms tussen die partye, soos gesluit in 2006, ‘n onhoudbare situasie geskep het ingevolge die voorskrifte van die Wet op Hoër Onderwys.

“Onderhandelinge tussen die twee partye het in Desember 2015 momentum gebou na die ontvangs van ‘n brief van die Raad op Hoër Onderwys. Dit staaf dat Hoër Onderwys Instansies ‘n verpligting het om alleen verantwoordelikheid te neem vir die organisasie en bestuur van sy onderrig- ​​en leeraanbieding, die assesserings ten opsigte daarvan en ook die akademiese ondersteuning wat aan studente gelewer word. Nie een hiervan kan aan ‘n derde party uitgekontrakteer word nie.” verduidelik Jacobs.

Deurgaans is onderhandelinge ook sedert Desember 2015 in goeie trou gehou. In Februarie 2022 het die partye ooreengekom oor die inhoud van ‘n tussentydse diensooreenkoms en die GKSA-kurators is versoek om die tertafellegging van die voorgestelde diensooreenkoms te verseker by die Algemene Sinode wat in Januarie 2023 gehou sou word.

 

“In Junie 2022 het die NWU in die skrywe aan die Kuratore van die wedersyds ooreengekome status van die Februarie 2022 konsep-ooreenkoms en die Kuratore formeel versoek om die voorgestelde diensooreenkoms by die Algemene Sinodevergadering ter tafel te lê. Daar is ook aangedui dat ‘n brief in Februarie 2023 aan die Kurators gestuur sal word om formele kennis te gee van die beëindiging van die 2006-ooreenkoms,” verduidelik Jacobs.

Volgens die GKSA sou die nuwe ooreenkoms moontlik die spreekwoordelike bal uit die GKSA se hande vat.

  • “Die inhoud van die leerplan vir teologiese opleiding sal geheel in die hande van die NWU val.
  • Teologiese professore se tyd sal ook aan die NWU behoort en slegs met vergunning by die GKSA aangewend kan word.
  • Teologiese studente sal ook nie noodwendig onderrig ontvang deur Gereformeerde professore of dosente nie aangesien die GKSA geen inspraak sou hê in die aanstelling van professore soos ooreengekom in die huidige ooreenkoms nie,” noem die GKSA.

“Hierdie voorwaardes is na die oordeel van die Sinode nie in lyn met die Skriftuurlike benadering tot teologiese opleiding wat die opleiding van die GKSA se predikante se grondslag is nie.”

Jacobs voer verder aan dat diensvlakooreenkomste wat die NWU het nie die voorskrifte van die Wet op Hoër Onderwys mag oortree nie.

“Ons wag nou op ‘n formele kennisgewing van die GKSA-kurators oor die aangeleentheid en die werkende NWU-groep sal dan van daar af werk om die pad vorentoe te bepaal in die formalisering van die proses om die 2006-ooreenkoms uit te voer; of om ander alternatiewe te oorweeg indien dit beskikbaar sou wees.”

“Alhoewel die NWU die langdurige verhouding met die GKSA koester en waardeer, is ons gebonde aan reëls en regulasies soos vervat in die Wet op Hoër Onderwys.”

Volgens Jacobs het het geen eerstejaarstudente tot die afgelope naweek vir die sogenaamde “Kandidate BTh” (die program waarin studente van die GKSA inskryf) vir 2023 ingeskryf nie.

“Die syfers vir studente wat vir hierdie program ingeskryf het, het dramaties afgeneem oor die afgelope paar jaar.”

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button