Local news

Pure lekkerte wat Bybels help betaal

Die afgelope 19 jaar het boepensbroodjies by die duisende en fietsryers wat trap vir Bybels al gesamentlik al R2,7 miljoen help insamel vir die Bybelgenootskap

Klokslag elke jaar vroeg in Februarie is dit die stofie-draf agter die jaffelpanne in die NG gemeente Parys-Oos se kerksaal. Vanjaar altesaam 6 400 van die boepensbroodjie lekkerte wat gebak en verpak moes word. Vir die afgelope 19 jaar al help elke vier van hierdie jaffels wat verkoop word, om dit  moontlik te maak om steeds ‘n standaard Bybel bekostigbaar te kan verkoop in die handel.

Om  ‘n standaard Bybel te druk kos R255, maar teen ‘n verkoopprys van net R199, beteken dit ‘n verlies van R55 per Bybel vir die Bybelgenootskap. Met die Oos-gemeente se jaarlikse jaffelbak en pretdag projek asook die fietstrap vir Bybels kon daar in totaal oor die afgelope 19 jaar, ‘n bydrae van R2,7 miljoen aan die Bybelgenootskap oorbetaal word – geld wat uitsluitlik gebruik word om die tekort te subidieer sodat die verkoopprys van standaard Bybels nie onbekostigbaar word nie.

Hoewel die Oos-gemeente se finale syfers vir vanjaar se projek nog nie bekend is nie, is na raming by die R85 000 ingesamel en is daar groot dankbaarheid vir elkeen wat die projek ondersteun het.

Die projek is aanvanklik deur ’n Vanderbijlparkse gemeente begin en het Parys-Oos gehelp, maar het dit oor die jare  eie aan Parys geword.

Vandag is die Bybel steeds die mees gelese boek ter wêreld. Tog was daar in 2022 steeds 3948 van die 7 359 tale in die wêreld wat nog geen deel van die Bybel op skrif gehad het nie, en net 700 tale met ’n volledige Bybel. Die Afrikaanse Bybel is vanjaar 90 jaar oud.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is vanjaar 203 jaar oud, en is die enigste instansie in Afrika wat Bybels kan vertaal en druk.

Die NG gemeente Parys-Oos vier vanjaar sy 75ste bestaansjaar.

Vir ds. Gerrie van Dyk, verhoudingsambassadeur van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Sentraal-streek,  het Parys oor jare  sinoniem geword met die Jaffel-projek en loer hy jaar na jaar in wanneer die jaffelpanne op die gasstowe staan. Vandeesweek was hy weer in Parys, want die boepensbroodjie lekkerte mis hy vir niks in die wêreld nie.

Ds. Gerrie tree einde Oktober af na byna 30 jaar by die Bybelgenootskap.

 

 

 

Related Articles

Back to top button