Local news

Ons was nie gerat hiervoor nie

"Ons moet ernstig raak as ons nie 'n herhaling van die Boksburg-tragedie wil sien nie,"

Nooddienste en verskeie ander rolspelers het die afgelope week ernstig besin oor lesse wat geleer is uit ‘n simulasie-oefening in Oktober 2022, toe ‘n botsingtoneel deur RIMS in samewerking met BP Petroleum gekoördineer en gesimuleer is.
Dit is gedoen om ‘n kritieke scenario voor te stel waar die reaksietyd en gereedheidsgrondslag van nooddienste getoets is. Die realiteit wat gesien is, is dat nooddienste plaaslik nie gerat was om ‘n toneel soortgelyk aan die tragiese insident wat Oukersaand in Boksburg gesien is, te kon hanteer nie.
Vir die simulasie is ‘n realistiese toneel voorgestel waar ‘n brandstoftenkwa, ‘n vragmotor wat sianied vervoer, en ‘n motor op die R59 sowat 7 kilometer buite Parys op die Vredefort-pad gebots het.
Nooddienste is nie vooraf in kennis gestel van die oefening nie. Tog is protokol geensins gevolg nie, was die eerste reaksie eers 45 minute na die noodoproep van die vragmotorbestuurder na die gesentraliseerde beheersentrum op die toneel, en geen ag geslaan op die gevaar van die inhoud van die tenkwa wat in ‘n stroom uit die tenkwa geloop het.
“As jy kyk na die tragiese gebeure wat op 24 Desember 2022 in Boksburg afgespeel het,  wat die lewens van 41 mense geëis het na ‘n gastenkwa ontploffing toe die tenkwa onder ‘n spporwegbrug vasgesit het, was die simulasie insident presies dieselfde scenario. Die enigste verskil – hierdie was ‘n noodoefening,” is Maandag opgemerk.
Ten spyte van duidelike waarskuwings- tekens op die vragmotor dat gevaarlike stowwe vervoer word en die brandgevaar daarvan, is die toneel nie afgesper nie, en verkeer nie na alternatiewe roetes herlei nie. Verbygangers het gestop en selfs foto’s geneem van die toneel. Mense het ongehinderd deur die toneel beweeg. Brandweerdienste het ver tekort geskiet met reaksietyd, hantering van die toneel en brandweerpersoneel wat sonder beskermende drag op die toneel was.
‘n Gebrek aan kennis en kommunikasie van noodplanne, en rolspelers wat nie as ‘n span saamgewerk het nie – sou by die toneel fataal gewees het as hierdie ‘n werklike botsing was.
Daar sal nou dringend aan aksieplanne gewerk word om seker te maak nooddienste is gerat om tonele soos hierdie in die toekoms volgens protokol te kan hanteer. Die belangrikheid hiervan is ook Maandag uitgewys met verwysing na die aantal vragmotors wat daagliks deur die dorp beweeg met die R59 wat ‘n alternatiewe roete vir die N1 is. “Ons moet ernstig raak as ons nie ‘n herhaling van die Boksburg-tragedie wil sien nie,” is gesê. Daar sal veral gekyk word na opleiding, en om vervoermaatskappye te nader om noodplanne te kry. Meer druk sal op die munisipaliteit geplaas word om seker te maak rekord word gehou van gevaarlike stowwe wat deur die dorp vervoer word, soos wetlik vereis.
Die lesse wat geleer is, was ‘n duidelike aanduiding dat baie gedoen sal moet word om te verseker dat ‘n tragedie soos wat in Boksburg gesien is, nooit weer gebeur nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button