Local news

Ouers stukkend na hul albei seuns in ‘n oogwink verloor

Die trane lê nog vlak in Werner Kleyn se oë terwyl hy vertel hoe ‘n motorongeluk slegs ‘n paar kilometer van hul huis af, die lewens van albei hul seuns, Werloe (20) en Jovan (15) geneem het.

 

“Toe ek die nuus hoor is ek en my vrou (Linta) dadelik na die toneel toe. Ons kinders was buite die kar nadat dit gerol het. Hulle is op slag dood. Ek het by my kinders gesit en op die toneel gebly saam met die nooddienste totdat hulle liggaampies weggeneem is,” noem Werner.

Werner Kleyn vertel hoe hy sy kinders se lewe gaan vier. (Video: Cornelia Hitge)

Die motorongeluk het op Vrydag, 20 Januarie op die Mooibankpad plaasgevind toe sy seuns op pad was om te gaan koeldrank koop by ‘n winkel wat naby hulle huis was. Die gesin se huis is op ‘n kleinhoewe by Berts Bricks.

“Ek het gewonder hoekom bly my seuns so lank weg. Ek het vir Werloe gebel en geen antwoord gekry nie, toe vir Jovan en ook niks nie. Toe ek die oproep vyf minute later kry van die ongeluk, was ek in absolute skok en ongeloof,” vertel Werner met hartseer in sy stem.

“Werloe het vir fietsryers in die pad uitgeswaai. Hy kon hulle dalk ook nie mooi gesien het nie omdat die son vlak gesit het teen 18:00,” voeg Werner by.

Beide broers was kranige perderuiters wat aan ‘n verskeidenheid perdesporte uitgeblink het en Noordwes kleure behaal het. Werner en sy seuns was ook deel van die Potchefstroom Polocrosse-klub.

Werner Kleyn, pa van Werloe en Jovan, vertel oor hulle passie vir perdesport. Foto: Cornelia Hitge.
Werner Kleyn saam met sy seuns se perde, Wazi en Henry-James.

Beide Jovan en Werloe se perde, Storm en Henry-James, gaan ook nou deel van ‘n spesiale rit vir die ouerpaar wees.

“Ek en my vrou het besluit om in Februarie op ons seuns se perde in ‘n byeenkoms te gaan ry. Ons ry nou vir ons kinders.”

“Hulle het vir perdry geleef en ‘n passie gehad. Werloe het al vandat hy vyf was begin perdry. Jovan was ook in 2021 deel van die SAEF (South African Equestrian Federation) se jeugspan gewees. Hy het ‘n blou baadjie gekry wat soortgelyk aan SA kleure is. Hulle het uitgeblink in die sport,” noem Werner.

Werloe en Jovan was onafskeidbaar en het ‘n hegte verhouding gehad.

Werner Kleyn raak emosioneel terwyl hy oor sy seuns gesels.

“Hulle was deur dik en dun by mekaar. Werloe was die stil kind gewees, nie noodwendig so sosiaal nie, terwyl Jovan nou weer ‘n sosiale mens en ook ‘n regte haan onder die henne was. Hy was gewild onder die meisies,” vertel hul pa.

Al is Werner en Linta nog stukkend en die seer baie rou, is daar besluit om hulle kinders se lewens hierdie week by die roudiens met kleur te vier.

“Werloe het gesê dat as hy eendag sterf dat ons nie moet rou nie, maar sy lewe moet vier. Dit is makliker gesê as gedaan, maar ons gaan ons kinders Donderdag (26 Januarie) vier. By die roudiens uitnodiging het ons genoem dat mense nie swart aantrek nie maar eerder iets kleurvol. Hulle is op ‘n beter plek as wat ons is, al verstaan ons nie hoekom dit so moes gebeur het nie,” meen Werner.

Werloe is ‘n oud-Volkie wat in 2020 gematrikuleer het. Hy het verlede week by Stone Dynamics begin werk. Jovan het tuisonderrig gehad en sou hy vanjaar sy skoolloopbaan in graad 10 voorgesit het.

In die afgelope dae sedert die ongeluk is daar wyd en syd woorde van vertroosting en omgee vir Werner en Linta vanuit verskeie oorde gebied. Dit is juis tekenend van die impak wat hulle kinders op die gemeenskap gehad het.

“’n Mens besef nie altyd watter impak jou kinders op ander het nie. Hulle het mense aangeraak. Jovan sou jou hand styf vasdruk as hy jou groet. Amper stukkend druk. Ons almal gaan my seuns se stywe handdrukke en vriendelike groet mis.”

https://potchefstroomherald.co.za/119755/ouers-stukkend-na-hul-albei-seuns-in-n-oogwink-verloor/

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button