Local news

Protesaksie: Vyftien Maandag weer voor die hof

Waterkrisis steeds 'n groot bekommernis


Vyftien mense wat die afgelope week deur die polisie op klagte van openbare geweld gearresteer is,  sal Maandag 23 Januarie weer voor die hof verskyn vir formele borgaansoeke. Dit volg na wydverspreide protesoptrede Sondag in die Tumahole-woonbuurt begin het en ook na die Schonkenville woonbuurt en die dorpsgebied uitgebrei het uit woede en frustrasie oor die knaende watertekorte waaronder die dorp se inwoners al vir maande gebuk gaan.

Elf van die vyftien wat gearresteer is, het vanoggend, Donderdag 19 Januarie, vlugtig voor die landdroshof in Parys verskyn, terwyl vier reeds gister, Woensdag 18 Januarie hul eerste hofverskyning gehad het. Al vyftien is steeds in aanhouding.

DIe situasie in Parys was vandag rustiger en monitor die polisie en lede van Openbare Orde Polisiëring die situasie steeds deurentyd.

Meeste besighede het weer hul deure vandag kon oopmaak  nadat die protesoptrede grootskaalse ontwrigting en chaos sedert Maandag in die dorp veroorsaak het.

Skole is sedert Maandag al gesluit ter wille van veiligheid van die personeel en kinders.

Deur die nag was daar enkele voorvalle van plundering van besighede in die Tumahole-woonbuurt, terwyl die situasie deur die dag meestal kalm was met enkele voorvalle wat gerapporteer was.

Paaie in en om Parys was oop vir verkeer en was met die skryf van hierdie berig steeds oop.

Die situasie by Parys se watersuiweringsaanleg was teen vanoggend  egter onveranderd en het mense steeds gerapporteer dat krane droog is. Geen terugvoer is nog van die munisipaliteit ontvang oor uitkoms van die vergadering wat sou plaasvind tussen verteenwoordigers van departement waterwese & sanitasie, en die Ngwathe munisipaliteit na Maandag se evaluering van die situasie by die suiweringsaanleg.

Die munispaliteit het ook nog nie met die skryf van hierdie berig gereageer op Gazette se navraag oor hoe watervoorsiening aan dele wat nie water het nie, veral in die Tumahole en Schonkenville-woonbuurte nou hanteer sal word, nadat  munispale watertenks en bande sedert Sondag deur woedende betogers aan die brand gesteek is. Ook nie oor wat die aksieplan vir die pad vorentoe is nie. Sodra die inligting ontvang word van die munisipaliteit, sal dit bygewerk word.

Vryheidsfront Plus LP en kiesafdelingshoof vir die Ngwathe munisipaliteit, Tammy Breedt, het Dinsdag in ‘n verklaring gesê dat ‘n skrywe ook aan die provinsiale regering gerig is om te vra dat ingegryp word in Parys se waterkrisis, en dat die Vrystaatse premier, onderneem het om te versoek dat watertenkwaens in Parys, Schonkenville en Tumahole beskikbaar gestel word, en die wermag genader word vir hulp. Hiervan is egter vandag nog niks gesien nie.

Polisielede en mense uit die gemeenskap het vandeesweek hande gevat en begin om paaie skoon te maak en klippe te verwyder. Daar was egter fel kritiek teen die munisipaliteit vir die gebrek aan hulp om skoon te maak en te help met die verwydering van die klippe.

Bande is vroeër vandeesweek letterlik oraloor in Parys, Tumahole en Schonkenville in die strate gebrand, terwyl ook die munispale kantore in Tumahole waar ook ‘n satellietkantoor van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) was, aan die brand gesteek is. Die Ngwathe uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, se ma se huis is ook deur betogers Maandag aan die brand gesteek.

Die swart brandmerke op paaie was vandag steeds die stil getuienis van ‘n gemeenskap se ontevredenheid met die jammerlike onvermoë van ‘n munisipaliteit om drinkwater aan sy inwoners te kan voorsien.

Related Articles

Back to top button